Die Springbok-vroue het hul WXV-reeks deur Europa op ’n hoë noot afgesluit met ’n sege van 20-0 (rustyd 10-0) oor Spanje in warm en vogtige toestande by die Estadio Olímpico de la Cartuja in Sevilla Sondagmiddag.
Ondanks ’n foutetal wat hoër was as wat dit moes gewees het, sal die Bok-vroue baie tevrede wees met hul verdedigingspoging. Spanje se vinnige spel en gewilligheid om die bal in die hand te hou het hulle deeglik getoets, maar die Suid-Afrikaners het stewig gestaan.
Albei spanne het effens senuweeagtig begin, maar die Suid-Afrikaanse skrum was stewig en het namate die wedstryd gevorder het al hoe meer selfvertroue opgebou. Hoewel die lynstane wisselvallig was, het die Bok-vroue daarin geslaag om besit by hul gashere af te neem.
Die Bok-vroue was ook gretig om die bal wyd te versprei en het belowend op aanval gelyk, maar was soms te haastig, wat tot hanteerfoute gelei het. Hulle het ook by ’n paar strafskoppe versuim om die bal by die kantlyn uit te skop.
Dit het 14 minute geneem voordat die eerste punte aangeteken is toe Catha Jacobs ’n uitstekende drie gedruk het. Die beweging het begin met ’n sterk lopie van Aseza Hele van die agterkant van ’n aanvallende skrum af. Die Suid-Afrikaners het groot geduld op aanval in Spanje se 22-metergebied getoon, waarna Jacobs die welverdiende drie afgerond het. Jakkie Cilliers het die doelskop oorgeskop om Suid-Afrika met 7-0 te laat voorloop.
Spanje het aangehou druk toepas, maar die Bok-vroue se verdediging was uitstekend. Albei spanne was gewillig om aanvallende rugby te speel, maar sonder verdere beloning.
Cilliers het in die 30ste minuut ’n strafdoel oorgeskop om Suid-Afrika se voorsprong na 10-0 te vergroot. Kort daarna moes Babalwa Latsha, wat vroeër as voorsorgmaatreël vervang is, terugkeer nadat haar plaasvervanger, Nombuyekezo Mdliki, op ’n draagbaar van die veld af geneem is.
Hele het vroeg in die tweede helfte die telling na 15-0 geneem toe sy oor die doellyn gebars het nadat die Bok-vroue besit in die Spaanse 22-metergebied omgekeer het. Ongelukkig het Cilliers se doelskop gemis
Dit het meer as 20 minute geneem voordat die volgende punte aangeteken is. Spanje het ’n speler vir herhaalde oortredings in hul eie 22-metergebied tydelik verloor, wat genoeg ruimte geskep het vir Cilliers om ná nóg ’n goeie aanvallende beweging in die hoekie oor te gaan vir ’n drie. Die doelskop was onsuksesvol, maar met die telling op 20-0 en net meer as 10 minute oor, was die Bok-vroue stewig in beheer.
Die gasheerspan het nooit opgehou probeer nie, maar die Bok-vroue het net so onverpoosd bly verdedig. Met die voorspelers wat die grondslag gelê het, het die Suid-Afrikaners hul WXV-toer op ’n hoogtepunt afgesluit met hul sewende agtereenvolgende oorwinning oor Spanje.
