Bok-vroue wil Spanjaarde ook troef: ‘Ons moet die wedstryd van die begin af beheer’

Suid-Afrika se stut Nombuyekezo Mdliki maak Saterdag gereed om die Italianer Alissa Ranuccini te lak. Foto: Timothy Rogers, Getty.
Suid-Afrika se stut Nombuyekezo Mdliki maak Saterdag gereed om die Italianer Alissa Ranuccini te lak. Foto: Timothy Rogers, Getty.

Die Springbok-vrouespan het hul sokkies opgetrek teen die Italia­ners ná ’n loesing teen Wallis in die WXV-reeks, maar nou wag die Spanjaarde.

Suid-Afrika het hul eerste wedstryd in dié reeks teen Wallis in Cardiff met 19-50 verloor, maar ’n week later met ’n puik sege van 41-29 oor Italië vergoed.

Franzel September, een van die Bok-vrouespan se afrigters, het in Sevilla, Spanje, waar die span vir hul volgende wedstryd voorberei, met Die Papier gesels. “Ons het (teen Italië) daarop gefokus om ons vaste fasette uit te sorteer, want ons poging om dit as aanvalsplatform teen Wallis te gebruik, het misluk. Ons het ook ons balbesit goed beskerm en reg gebruik en dit het onder meer aanleiding gegee tot Anushka Groenewald se twee van ons ses drieë.

“Nadat ons teen Wallis verloor het, het die spelers self verant­woordelikheid aanvaar en opgestaan om ’n verskil te maak. Almal het vroeg in die week duidelikheid oor die plan gehad en die span is vroeg aangekondig om seker te maak dat niks die ritme sou versteur nie.”

September is positief voor Sondagmiddag se wedstryd teen Spanje en fokus op wat hulle met die wedstrydplan beter kan doen. “Ons wil seker maak dat ons die wedstryd Sondagmiddag in die hitte goed begin en dat ons die wedstryd van die begin af beheer en na hulle neem en die druk toepas.”

Libbie Janse van Rensburg en Ayanda Malinga, wat sukkel met beserings, het huiswaarts gekeer. Intussen het Byrhandré Dolf haar harsingskuddingtoets geslaag en sal beskikbaar wees.

Die losskakel Mary Zulu het haar by die span aangesluit.

  • Die wedstryd skop 11:55 SA tyd af.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos