Namibië het sy eerste uitbreking van bek-en-klouseer in 60 jaar in sy belangrikste kommersiële veesone aangeteken, het die ministerie van landbou gesê. Dit het die regering genoop om ’n landwye verbod op die verskuiwing van vee en die uitvoer van vleis in te stel.
Bek-en-klouseer, ook bekend as BKS, is ’n hoogs aansteeklike virusinfeksie wat nie gevaarlik vir mense is nie, maar wat beeste en ander gesplete hoefdiere, insluitend skape en bokke, aantas.
Namibië is nou die agtste land in suider-Afrika wat vanjaar deur BKS geraak word, ná Botswana, Eswatini, Lesotho, Mosambiek, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe.
Die virus het Namibië se veeartsenykundige heining – ’n versperring wat die endemiese noordelike streek van die suide skei – oorgesteek en versprei na ’n gebied wat sedert 1964 amptelik BKS-vry gebly het, het die ministerie gesê.
Onmiddellike verbod
Die regering het ’n onmiddellike verbod op alle veeslagting landwyd gelas, wat kommersiële slaghuise, plaaslike markte en private byeenkomste insluit.
“Dit is die eerste keer dat ons sedert onafhanklikheid ’n uitbreking het en dit sal ’n nadelige uitwerking op die bedryf hê,” het Romeo Muyunda, ’n woordvoerder van die ministerie van landbou, aan AFP gesê. Namibië het in 1990 onafhanklik van Suid-Afrika geword.
Meer as 90% vir Europe bestem
In 2025 het Namibië meer as 13 381 ton beesvleis uitgevoer, waarvan meer as 90% na Europa gegaan het, volgens die veeboereprodusente-raad, Nammic.
Die staatsbeheerde verwerker Meatco het gesê hy beoordeel die status van besendings beesvleis wat reeds uitgevoer is of tans onderweg is.
“Op hierdie stadium wil Meatco nie oor die hantering van individuele besendings spekuleer of sê of enige produk moontlik teruggestuur sal moet word nie,” het hy Vrydag in ’n verklaring gesê.
Die uitbreking bedreig ’n sterk herstel in Namibië se veesektor, wat volgens amptelike data in die tweede kwartaal van 2026 met 7,2% op ’n jaargrondslag gegroei het ná ’n inkrimping van 28,4% in 2025.
Die herstel is aangedryf deur ’n toename van 62% in die uitvoer van lewende beeste, tesame met ’n groter deurset by slaghuise.
Die Suid-Afrikaanse landbou-ekonoom Kobus Laubscher het Vrydag gesê die sleutel tot die bestuur van die uitbreking sal wees om staatsbeheer met kundigheid uit die private sektor en samewerking deur boere te versterk.
“Die staat behou verantwoordelikheid vir regulering, standaarde, toesig en internasionale vertroue. Die private sektor bring kundigheid, tegnologie, logistiek en ander vermoëns,” het hy aan AFP gesê.
Meer oor BKS
BKS veroorsaak koors en blase naby die hoewe en in die bek, wat diere daarvan weerhou om te vreet en soms tot hul dood lei.
