Selfs al is nagenoeg nege miljoen diere landwyd teen bek-en-klouseer (BKS) ingeënt, is dit volgens landbou-organisasies te vroeg om te sê dat ’n keerpunt in die krisis bereik is. ’n Lang pad lê waarskynlik nog voor.
Volgens die jongste syfers van AgriSA het sowat 8,9 miljoen diere reeds minstens een inenting ontvang, terwyl 17 miljoen dosisse entstof in Suid-Afrika ontvang is. Dit is ’n aansienlike toename sedert Mei, toe sowat 4,5 miljoen diere ingeënt was.
“Ek wil positief wees en graag sê ons het die draaipunt bereik, maar die uitbrekings het nie opgehou nie,” sê Johann Kotzé, die uitvoerende hoof van AgriSA.
“Omdat baie diere al ’n eerste keer ingeënt is, is die virus ’n hou toegedien, maar ons moet weer inent om die siklus te breek.”

Volgens Kotzé is daar ook logistieke uitdagings met provinsiale departemente wat die entstof aan kleinboere moet versprei – veral dié wat in die “uithoeke van die land” boer.
Wanneer ’n hele kudde ingeënt is, bied dit volgens hom beskerming van sowat 70% tot 80%.
Opvolginentings is egter nodig om die beskermingsvlak verder te verhoog.
Die tempo van inentings is boonop volgens Kotzé te stadig. Volgens sy berekeninge sal diere landwyd elke ses maande vir drie jaar ingeënt moet word om BKS te kan bestuur.
“Om dit reg te kry, sal inentings twee keer per jaar vir alle boere landwyd verpligtend moet wees as ons met die status ‘BKF-vry met enting’ wil uitvoer.”
Omdat die koste hiervan miljarde rande kan beloop, is die vraag of die regering bereid sal wees om daarvoor te betaal – en indien nie, of alle boere bereid en in staat sal wees om dit uit hul eie sak te finansier.
Indien dit nie haalbaar is nie, moet na alternatiewe soos ’n sogenaamde kompartementaliseringstrategie met enting gekyk word.
Dit behels dat ingeënte beeste apart gehou word van dié wat nie ingeënt is nie.
Gebiede soos voerkrale, waar alle beeste ingeënt is en nie met oningeënte beeste in aanraking kom nie, kan dan moontlik BKS-vrye status verkry en vir meer uitvoergeleenthede in aanmerking kom.


Bennie van Zyl, die bestuurshoof van TLU SA, sê boere moet realisties wees oor inentings en besef dat dit nie ’n wonderkuur is wat die probleem op sy eie gaan oplos nie.
“Dit is die pad wat ons moet bly stap – selfs met inentings se beperkings.
“Daar is gevalle waar beeste wat reeds ingeënt is en selfs ’n skraagdosis ontvang het, geïnfekteer word.
“Dit beteken nie ons moet entstof as sodanig afskryf nie.”
Volgens Van Zyl is een moontlike alternatiewe strategie om die land “van ’n kant af skoon te maak”. Hy stel voor dat aanvanklik op inentings in die Wes-Kaap en Noord-Kaap gefokus word, omdat dit die provinsies is waar die minste gevalle aangemeld word.
