Die eerste vyf rondes van vanjaar se VRK was van ’n besonder hoë gehalte, en die Suid-Afrikaanse spanne se meer aanvallende spel is bemoedigend.
Dít is die samevatting van Franco Smith, hoofafrigter van die Glasgow Warriors, wat tans boaan die punteleer is, in ’n gesprek met Die Papier.
“Wat ek tot dusver gesien het, is baie beter as in vorige kompetisies. Elke jaar kan ’n mens sien hoe die spanne by mekaar aanpas en by mekaar leer wat taktiek by die skrums, afbreekpunte en verdediging betref,” het Smith gesê.
“Dit was opvallend dat die spanne verlede naweek op die Nations Championship gefokus het, wat hierdie naweek hervat word. Die sterk klem op die vaste fasette het tot heelwat meer drieë gelei, en spelers het ook die bal meer lug gegee.
“Die Suid-Afrikaanse spanne se meer aanvallende spel en groter getal drieë het tot dusver uitgestaan. Ek dink dit is ’n goeie ding en dit sorg vir meer aantreklike rugby.”
