Met 75% van uitslae bekend het die DA bewys dat hy steeds ’n groot onderstenuningsbasis op die Kaapse Vlaktes het. In (wyk 38) in Woodlands in Mitchells Plain op die Kaapse Vlaktes het die Demokratiese Alliansie (DA) 51,8 % van die stemme ontvang.
Die National Coloured Congress (NCC) het egter 16,4% stemme ingewin waar hulle in die vorige plaaslike verkiesings 10,03% stemme gewerf het. Die Islamiese politieke party Al Jama-ah het Patricia de Lille se party Good, wie voorheen die derde sterkste party in die wyk was, ’n uitklophou gegee.
- Volg die uitslae soos verskaf vanaf die OVK op NovaNews se website hier.
Hulle het die derde meeste stemme ontvang met 5,6% van die stemme wat 490 stemme is.
Selfs die Patriotic Alliance (PA) het vir Good ’n hou toegedien, en lê in vierde plek met 4,1% van die stemme. Good het slegs 3,8% stemme ontvang. In sesde plek het ActionSA ook gesig gewys met 3,7% van die stemme waarvan 326 mense vir die party gestem het.
In Hanover Park in (wyk 47) het die DA weer sterk deurgekom met 40,0% van die stemme waarvan 417 mense vir die party gestem het. Hier het Al Jama-ah weer die NCC ’n uitklophou gegee met die tweede meeste stemme. Al Jama-ah het 21,9 % van die stemme ingewin en NCC 9,3%. Selfs die ANC in vierde plek met 5,7% van die stemme het ActionSA, Good en die PA gewen. ActionSA het met 3,5 % van die stemme weggestap, Good, 2,9% en die PA 2,5%.
In Lavenderhill in (wyk 110) het die DA met 59,1% stemme weggestap en die PA in tweede plek met 5,8 %. Al Jama-ah het die derde meeste stemme ontvang met 5,7% van die stemme wat 412 stemme is. Africa Restoration Alliance (ARA) het ook gesig gewys en is kort op hul hakke met ook 5,7 van die stemme wat 411 stemme is. Ellen Pakkies, wat skuldig bevind is vir die moord op haar seun Abie Pakkies en die NCC se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, het 4,6% van die stemme ingewin en 336 mense het vir haar gestem.
