Voorlopige syfers het teen 18:00 vanmiddag getoon dat Gauteng voorloop as dit kom by die getal kiesers wat vandag hul kruisies gaan trek het.
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) het 3 miljoen kiesers in Gauteng reeds teen 17h00 gestem.
Dit is net minder as die helfte van die sowat 6,7 miljoen kiesers wat geregistreer het om te stem, maar aansienlik méér as die 2,7 miljoen Gautengse kiesers wat in die plaaslike verkiesings van 2021 gestem het.
Teen 17:00 het sake só gestaan in die ander provinsies. Die hoeveelheid kiesers wat geregistreer het om te stem, word aangedui in hakies:
- KwaZulu-Natal: 2,5 miljoen (6 miljoen)
- Wes-Kaap: 1,5 miljoen (3,5 miljoen)
- Oos-Kaap: 1,4 miljoen (3,6 miljoen)
- Limpopo: 1,1 miljoen (3 miljoen)
- Mpumalanga: 854 901 (2,1 miljoen)
- Noordwes: 702 1337 (1,9 miljoen)
- Vrystaat: 588 237 (1,5 miljoen)
- Noord-Kaap: 299 381 (713 869)
Die OVK het ’n beroep gedoen op kiesers wat nog nie gestem het nie om die stemlokale waar hulle geregistreer is te besoek voordat die stemming om 21:00 sluit.
Die Kommissie het kiesers verseker dat almal wat voor 21:00 by ’n stemlokaal aankom, toegelaat sal word om te stem. Niemand wat teen sluitingstyd reeds in die kiestou staan, mag weggewys word nie.
