Met drie verskillende stembriewe in sommige munisipaliteite, kan dit maklik verwarrend raak vir kiesers wat nie vertroud is met die plaaslike regering se kiesstelsel nie.
Die aantal stembriewe wat ’n kieser ontvang, hang af van die soort munisipaliteit waarin hy of sy geregistreer is.
Twee of drie stembriewe – wat is die verskil?
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) ontvang kiesers in metropolitaanse munisipaliteite twee stembriewe per wyk.
Die eerste stembrief is vir die wyksraadslid. Hier stem kiesers vir ’n spesifieke kandidaat wat hul wyk op die metropolitaanse raad sal verteenwoordig.
Die tweede stembrief is vir proporsionele verteenwoordiging (PR). Op hierdie stembrief stem kiesers vir ’n geregistreerde politieke party om volgens die proporsionele kiesstelsel in die raad verteenwoordig te word.
In alle ander munisipaliteite ontvang kiesers drie stembriewe.
Dit sluit in:
- Plaaslike wyksraad: Kies ’n kandidaat om jou wyk in die plaaslike munisipale raad te verteenwoordig.
- Plaaslike PR-stembrief: Kies ’n politieke party vir verteenwoordiging in die plaaslike munisipale raad.
- Distriksraad PR-stembrief: Kies ’n politieke party vir verteenwoordiging in die distriksmunisipale raad.
Die derde stembrief is dus spesifiek vir die distriksmunisipaliteit, wat saam met plaaslike munisipaliteite verantwoordelikhede op ’n groter geografiese vlak vervul.
Kan jy vir ’n onafhanklike kandidaat stem?
Ja. Onafhanklike kandidate kan aan wyksverkiesings deelneem en kiesers kan vir hulle stem.
Hulle kan egter nie op die PR-stembrief verskyn nie. Slegs politieke partye wat by die OVK geregistreer is, mag kandidate vir proporsionele verteenwoordiging benoem.
Dit beteken kiesers het op die wyksstembrief die keuse tussen kwalifiserende partykandidate en onafhanklike kandidate, waar dié beskikbaar is.
Maak seker jy verstaan elke stembrief
Hoewel die stemproses op die oog af eenvoudig lyk, is dit belangrik dat kiesers die doel van elke stembrief verstaan voordat hulle hul stem uitbring.
Die wyksstembrief gaan oor direkte verteenwoordiging deur ’n kandidaat, terwyl die PR-stembriewe oor politieke partyverteenwoordiging in die onderskeie rade handel.
Kiesers moet ook onthou dat die presiese stembriewe wat hulle ontvang, deur die tipe munisipaliteit waarin hulle geregistreer is, bepaal word.
Die OVK se amptelike riglyne bevat verdere inligting oor die stemproses en die vereistes vir munisipale verkiesings.
Vir meer inligting besoek die OVK se webtuiste hier.
Waarom jy vandag moet stem
As jy wegbly, verloor die party wat jy steun nie een nie, maar drie stemme, want selfs in metrorade waar jy slegs twee stembriewe kry, word een van die stemme effektief tweekeer getel. Jy stem dus nie net vir jou wyksraadslid nie, maar ook vir verteenwoordiging in die rade, wat verantwoordelik is om jou basiese dienste te lewer.
