Ná twee dae van spesiale stemme sal die meerderheid van Suid-Afrikaners vandag, 4 November, in vanjaar se plaaslike verkiesings stem. Dié artikel bevat die belangrikste nuus wat vandag regoor die land plaasgevind het soos dit ontvou.
- Volg ook NovaNews se regstreekse verkiesingskaart hier.
Só ontvou stemdag regoor die land
15:45
’n Rekordgetal van 29,2 miljoen kiesers is landwyd geregistreer by 23 696 stemlokale, met 188 000 OVK-amptenare wat ontplooi is. ’n Ipsos-meningspeiling het egter bevind dat 33% van geregistreerde kiesers “baie waarskynlik” en 43% “waarskynlik” sou stem, terwyl 13% aangedui het hulle is “onwaarskynlik” en 10% “glad nie waarskynlik nie” om te stem.
15:40
Die MK-party se burgemeesterskandidaat vir die Stad Tshwane, Annie Nkele Matime, het haar stem uitgebring. Die party betree dié verkiesing met ’n groeiende teenwoordigheid in stedelike metros en ’n sterk steunbasis in KwaZulu-Natal, wat hom as ’n belangrike aanspraakmaker op koalisieregering posisioneer.

15:00
uMngeni se burgemeester, Chris Pappas, het sy stem uitgebring terwyl daar vandag ’n bestendige en entoesiastiese opkoms by stemlokale regoor die uMngeni-munisipaliteit was. As ’n fyn dopgehoue strydperk waar die DA sy rekord wil verdedig, het stemlokale in Howick en die breër Middellande-streek oor die algemeen ordelike rye en ’n gladde stemproses aangemeld.

14:30
Claudia Ruhle, wat vandag vir die eerste keer stem, het vandag haar stem by die Strand-stadsaal uitgebring, vergesel deur haar ma, Debora. Debora het buite die stemlokaal haar kommer uitgespreek oor stemreg vir permanente inwoners en daarop gewys dat hulle, ondanks die feit dat hulle in Suid-Afrika woon, werk en belasting betaal, sedert 1994 nie mag stem nie en geen inspraak in plaaslike regering het nie.
13:50
Voormalige president Thabo Mbeki het sy stem by die Killarney Country Club in Johannesburg uitgebring en hom by miljoene Suid-Afrikaners aangesluit wat aan die plaaslike verkiesings van 2026 deelneem. Hy het beklemtoon dat die onderliggende oorsake van munisipale wanfunksionering aangespreek moet word terwyl kiesers hul keuses by die stembus oorweeg. Foto: GCIS.

13:45
Werner Horn, die DA se nasionale adjunkveldtogbestuurder, gesels met Die Papier by die nasionale uitslagsentrum in Midrand oor wat hy oor sy party uit die veld uit hoor. Video: Jana Marx.
13:30
Riaan Sunny van NovaNews berig regstreeks vanaf die stemlokaal in Strand, waar groot skares vanoggend die son trotseer het voordat amptenare kiesers na die skaduwee binne die terrein verskuif het. Ondanks die lang rye en vol parkeerterreine vroeër vandag, verloop die stemproses tans glad.
12:45
Voorsittende beampte Francois Keuller het vanaf die stemlokaal by Dr. Block Hoërskool in Heidedal gedeel hoe sake nou staan en gesê kiesers het reeds van 04:00 af in rye gewag, terwyl verkiesingsbeamptes teen 09:00 byna 700 kiesers gehelp het en 80% van die 640 geregistreerde spesiale- en huisbesoekstemmers reeds hul stemme uitgebring het.
12:30
Julius Malema, EFF-leier, bring sy stem by die Laerskool Mponegele-stemlokaal in Polokwane uit tydens Suid-Afrika se plaaslike verkiesings. Foto: Lucas Ledwaba / AFP.

11:50
ActionSA se burgemeesterskandidaat vir die Stad Kaapstad, Dereleen James, het pas haar stem uitgebring. Foto: Bohemia Hoffmeester-Jumatt.

Video: Bohemia Hoffmeester-Jumatt.
11:30
Voormalige president Kgalema Motlanthe het sy stem by die Killarney Country Club in Johannesburg tydens die plaaslike verkiesings van 2026 uitgebring. Foto: GCIS.

11:00
Wes-Kaapse premier Alan Winde het vandag stemlokale regoor Kaapstad besoek, waar hy met plaaslike inwoners gesels het. Hier is hy saam met Esmé Green van Bonteheuwel, wat haar toewyding duidelik gewys het deur haar hare in haar party se kleure te kleur.

Hoewel kiesers deur lang rye by stempunte in die gesig gestaar word, is mense bereid om te wag om hul stem uit te bring, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-leier. Hy het gesels met Die Papier by die Koeberg-biblioteek, Duynefontein, in die Kaapstad-metro, waar hy sou stem. Mulder sê hy is nie bewus van enige probleme nie, en doen die Verkiesingskommissie (OVK) sy werk. “Stempunte is oop en funksioneer. Dit vat ongelukkig net baie lank. Mense is egter vasbeslote, en wag,” sê Mulder. Video: Christiaan du Plessis.
10:30
President Cyril Ramaphosa het by die Hoërskool Hyde Park in Johannesburg aangekom om sy stem in die plaaslike verkiesings van 2026 uit te bring. Binne het Ramaphosa OVK-beamptes gegroet. Foto’s: Ilse Salzwedel.


Ramaphosa en sy vrou, Tshepo Motsepe, beweeg deur die skare om hul stem uit te bring. Video: Ilse Salzwedel.
Tlaleng Mofokeng het haar stem in wyk 90 by George Lea Park in die plaaslike verkiesings van 2026 uitgebring en gesê sy stem vir beter dienslewering, aanspreeklike regering en ’n Johannesburg wat vir al sy inwoners werk. Foto’s: Facbook/Economicfreedomstruggle.


Grant Twigg, DA-wyksraadslid in Kraaifontein het aan Die Papier se joernalis Bohemia Hoffmeester-Jumatt gesê dat die PA geen bedreiging vir hul party is nie. Volgens Twigg lewer hulle al vir die afgelope 26 jaar goeie diens aan die inwoners van Kraaifontein.
Casmino Jacobs, wykskandidaat vir die Patriotic Alliance het pas uitgevind ’n sluipmoordaanval op sy lewe beplan word. Die Papier se verslaggewer Bohemia Hoffmeester-Jumatt is tans hier by die stemlokaal in Scottsdene, Kraaifontein. Die DA is al vir meer as 26 jaar aanbewind in wyk 7. Dinge lyk egter baie goed vir die PA op hierdie stadium het Jacobs aan Die Papier gesê.
10:20
Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die media by ’n stemlokaal in Edgemead toegespreek nadat hy sy stem in die plaaslike verkiesings van 2026 uitgebring het.
09:45
Die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, word deur tientalle joernaliste by Emmerentia Primary in Emmerentia ingewag waar sy gaan stem. Foto’s en video: Ilse Salzwedel.


Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sy vrou Carla en die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, bring vandag hul stemme by die Laerskool Edgemead in Kaapstad uit. Hill-Lewis het die media toegespreek en gesê die Stad Kaapstad sal voortgaan om meer polisiëringshulpbronne op die Kaapse Vlakte aan te wend en grond beskikbaar te stel vir bekostigbare behuising.

09:30
Stem by die NJ Heyns-skool in Kimberley se wyk 23 verloop vlot, met byna 20% van kiesers, insluitend spesiale en gewone stemme, wat reeds hul stemme uitgebring het.
Hoewel lang rye vroeg vanoggend buite die stemlokaal sigbaar was, het die skare teen 09:15 aansienlik uitgedun. Dit blyk dat die versengende Kimberley-son kiesers laat terugstaan het om die hitte te vermy. Verskeie politieke partye ding in die wyk mee.
’n Duidelike proses is ingestel om die geheimhouding en vertroulikheid van stemme te beskerm, veral ten opsigte van spesiale stemme en huisbesoeke. Kiesers wat van die spesiale stemproses gebruik gemaak het, het hul drie stembriewe in Koevert A geplaas, wat daarna in Koevert B verseël is.
Hoewel dié koeverte Maandag en Dinsdag by sekere stemlokale gebruik is, is stembriewe by sommige stasies regstreeks in die drie afsonderlike stemkaste geplaas, waarskynlik omdat die voorraad koeverte uitgeput geraak het.
Ondanks die hitte bly die stemming buite die NJ Heyns-skool positief en opgewek. Verteenwoordigers van die ANC en ander partye hou verbygaande kiesers dop en wonder angstig of die kruisie ten gunste van hul party getrek is.

Hier is die DA-kandidaat vir wyk 23, Reggie Schikerling, ’n wyk wat hy hoop om te behou.
Kiesers in Welkom was geskok oor die toestand van die pad na die Philip Smit-stemlokaal in Thabong, wat deur rioolwater oorstroom is. Toegang vir voertuie en voetgangers is beperk, terwyl die reuk ondraaglik is. Die linkerkant van die dubbelpad is heeltemal versper. Kiesers by die stemlokaal het gesê hulle stem vir beter munisipale dienslewering.

09:15
Verslaggewers van verskeie mediagroepe wag geduldig buite die Laerskool Edgemead in Edgemead, Kaapstad, waar die uitvoerende burgemeester van die Stad Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, na verwagting sy stem in vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing sal uitbring.

09:00
Kiesers in Greenpoint, Kimberley, het Woensdagoggend reeds vroeg in hul duisende opgedaag om hul stemme uit te bring. Lang rye het buite die stemlokaal gevorm, met kiesers wat die versengende Noord-Kaapse son trotseer het om hul stemme te laat hoor.
Teen 09:00 is byna 200 stemme reeds uitgebring. Die voorsittende beampte en plaaslike inwoners het hul tevredenheid uitgespreek oor die gladde verloop van die stemproses tot dusver. Hoewel daar vroeër die oggend ’n groot toestroming van kiesers was, het bedrywigheid teen middeloggend ietwat afgeneem.
Buite die stemlokaal het verskeie politieke partye hul inligtingstente opgeslaan. Onder hulle was die EFF, die nuutgestigte Kimberley Action Group en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), wat vir die eerste keer op eie houtjie aan ’n verkiesing deelneem.
Die opgewondenheid onder kiesers word egter oorskadu deur die kommerwekkende toestand van die omgewing. Aan weerskante van die stemlokaal lê rommel en vullis oor die oop veld versprei, terwyl die reuk van afval in die lug hang.
Volgens inwoners is swak munisipale dienslewering die hoofrede vir hul ontevredenheid en frustrasie. Baie kiesers het aangedui dat hulle juis stem om verandering in hul gemeenskap te help bewerkstellig.
Omstreeks 09:00 was die ry by Laerskool Goedehoop in Secunda, Mpumalanga, nog vol energie, met mense wat nie in lang toue hoef te staan nie. Die ry beweeg vinnig, en almal is gesellig.
Die Verkiesingskommissie (OVK) het politieke partye gewaarsku dat veldtogvoering binne die grense van stemlokale streng verbode is.
Die waarskuwing kom terwyl stemlokale regoor die land hul deure open. Die OVK het politieke partye en hul ondersteuners herinner om die reëls wat politieke bedrywighede op Verkiesingsdag beheer, te respekteer.
08:45
JJ Mulder (31) maak seker sy stem word by die Swartland-stadsaal gehoor. Reeds 500 geregistreerde kiesers het teen 08:00 hier hul stemme uitgebring, terwyl OVK-amptenare verwag dat sowat 2 733 kiesers vandag hul merk in dié wyk sal maak. Foto: Charlotte Lesch.

08:20
Dinge begin stadig in Welkom. By die AGS Noord-kerk het slegs 15 mense tot dusver hul stemme uitgebring.

08:30
Kyk Izak du Plessis se eerste NuusPod-uitsending hier.
08:15
Inwoners van Macassar is vanoggend baie opgewonde om te stem vir ’n beter toekoms vir almal.
08:00
Joernalis Shanell Binedell gesels met VF Plus se burgemeesterskandidaat in Tshwane, Willie Spies, in Pretoria.
07:30
Kiesers dwarsoor die Noord-Kaap stroom vandag na die stembus in Suid-Afrika se grootste en ylste bevolkte provinsie, waar meer as 713 000 geregistreerde kiesers hul demokratiese reg uitoefen om te stem.
Om deelname regoor dié uitgestrekte provinsie te verseker, het die Verkiesingskommissie (OVK) 736 stemdistrikte ingerig, met sowat 20% van alle stemlokale wat op private kommersiële plase gevestig is. Verkiesingspanne moes buitengewone logistieke uitdagings trotseer, van ruwe grondpaaie en daktente in die Kgalagadi tot vroeë skofte onder polisiebegeleiding, om stemlokale betyds oop te stel, selfs by afgeleë punte met minder as 20 kiesers.
In stedelike sentrums soos Kimberley in Sol Plaatje word die verkiesing hewig betwis, waar inwoners ná jare van vuil strate, oorlopende rioolstelsels en munisipale krisisse stem vir skoon administrasie en infrastruktuur wat werk.
Te midde van provinsiewye frustrasie oor swak paaie en hoë werkloosheid hoop gemeenskappe dat hul stemme vandag uiteindelik doeltreffende dienslewering en ware aanspreeklikheid sal afdwing.
Twee miljoen mense sal Woensdag in KwaZulu-Natal se enigste metroraad, eThekwini, stem.
Die stad Durban word as ’n sleutelstrydperk in die provinsie beskou, aangesien die MK-party die ANC uit die kussings wil lig.
07:00
Die stemlokale vir die plaaslike verkiesings open regoor die land en sal tot 21:00 oop bly; kiesers wat reeds om 21:00 in die ry staan, sal steeds toegelaat word om te stem.
’n Verdagte is by ’n stemlokaal in Lulekani, Phalaborwa, in hegtenis geneem omdat hy na bewering die Kieswet oortree het deur ’n foto van sy gemerkte stembrief met ’n selfoon te neem, terwyl polisie nog na ’n tweede verdagte soek wat van dieselfde oortreding beskuldig word.
Die Papier-redaksie stem






