Verkiesing: Só lyk die peilings

Die jongste verkiesingspeilings dui daarop dat Suid-Afrika se politieke landskap toenemend gefragmenteerd kan raak.

Met Suid-Afrikaners wat môre, Woensdag 4 November, hul kruise in die plaaslike verkiesings trek, dui die jongste meningspeilings op ’n moontlike ingrypende verskuiwing in die land se politieke landskap.

Die ANC se steun het volgens verskeie opnames verder afgeneem, terwyl die DA in verskeie groot metropolitaanse gebiede sterk vertoon. Die MK-party het op sy beurt ’n stewige vastrapplek in KwaZulu-Natal opgebou.

Die jongste syfers dui daarop dat Suid-Afrika se politieke landskap toenemend gefragmenteerd raak, met kleiner partye wat moontlik ’n deurslaggewende rol in die samestelling van plaaslike regerings kan speel.

Dit beteken dat koalisieonderhandelinge ná die verkiesing weer ’n belangrike deel van die politieke proses kan word.

ANC steeds grootste, maar DA maak gaping kleiner

Volgens die jongste opname deur die Social Research Foundation (SRF), in samewerking met The Common Sense, staan die ANC se nasionale steun op 32%.

Die DA volg met 25,5%, terwyl die MK-party op 12,5% en die EFF op 9% staan.

Die syfers dui op ’n moeiliker politieke posisie vir die ANC, wat ná dekades van oorheersing toenemend met mededinging van ander partye te doen kry.

Die DA se posisie dui op ’n moontlike versterking van sy steun, terwyl die MK-party hom as ’n belangrike speler in die nasionale politiek gevestig het.

Die kleiner partye kan egter nie buite rekening gelaat word nie, veral in munisipaliteite waar geen enkele party genoeg steun het om alleen te regeer nie.

Voorgestelde syfers gebasseer op peilings. Hiérdie is nie die amptelike uitslae van die verkiesing nie.

Die stryd om die groot metro’s

Die eNCA/MarkData-peilings bied ’n interessante prentjie op die moontlike uitkomste in Suid-Afrika se ses grootste metropolitaanse munisipaliteite.

In Johannesburg loop die DA volgens die opname voor met 35%, teenoor die ANC se 22%. Die MK-party staan op 11%, terwyl die EFF en ActionSA ook steun geniet.

Die uitslag dui daarop dat geen enkele party noodwendig genoeg steun sal hê om die metro alleen te regeer nie.

In Tshwane lyk die prentjie soortgelyk. Die DA staan op 33,9%, met die ANC op 24,3%. ActionSA en ander kleiner partye kan moontlik ’n belangrike rol in enige koalisie-onderhandelinge speel.

In eThekwini is dit egter die MK-party wat die stryd wen. Volgens MarkData staan die party op 45,5%, teenoor die DA se 28%. Die ANC se steun staan op slegs 13,5%.

Dit plaas die MK-party in ’n sterk posisie om ná die verkiesing ’n leidende rol in die metro te speel.

Kaapstad bly intussen een van die DA se belangrikste steunpilare. Die MarkData-peiling plaas die party se steun daar op 54%, wat daarop dui dat hy moontlik sy meerderheid kan behou.

In Nelson Mandelabaai is die stryd tussen die DA en ANC besonder straf. Die DA staan op 37,7%, teenoor die ANC se 37,4% (’n verskil van net 0,3 persentasiepunt).

Voorgestelde syfers gebasseer op peilings. Hiérdie is nie die amptelike uitslae van die verkiesing nie.

Opkoms kan die uiteindelike verskil maak

Een van die belangrikste faktore wat die finale uitslag kan beïnvloed, is hoeveel geregistreerde kiesers werklik gaan stem.

Die MarkData-model is op ’n verwagte stemopkoms van 48,8% gebaseer.

Indien die werklike opkoms aansienlik van hierdie verwagting verskil, kan dit die politieke uitslag beïnvloed.

Dit is veral belangrik in metro’s waar partye se steunvlakke relatief naby aan mekaar lê.

Peilings is nie die finale uitslag nie

Dit is belangrik om daarop te let dat die syfers op meningspeilings en kiesers se aangeduide stemvoorkeure gegrond is. Dit is nie amptelike verkiesingsuitslae of ’n waarborg van hoe Suid-Afrikaners uiteindelik gaan stem nie.

Die opnames is onder bepaalde groepe kiesers gedoen en weerspieël die politieke sentiment gedurende die tydperk waarin die onderhoude gevoer is.

Die uiteindelike uitslag kan weens verskeie faktore, waaronder kiesersopkoms, verander.

Die Verkiesingskommissie (OVK) se amptelike stemmery en stemmetelling sal uiteindelik bepaal hoe die politieke magsbalans in die land se munisipaliteite gaan lyk.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos