Bok-vroue se afrigters sê span wil voortbou op momentum teen Iere

Die Bok-vroue speel Saterdag teen Ierland.
Die Bok-vroue speel Saterdag teen Ierland. Foto: Facebook/SAWomensRugby.

Die Springbok-vrouespan sal vandag in die Athlone-stadion in Kaapstad met goeie momentum die Iere aandurf ná goeie oorwinnings oor Italië en Spanje in die WXV-reeks.

Suid-Afrika het binne die laaste maand op hul Europese toer met Italië (41-29) en Spanje (20-0) afgereken.

Franzel September, mede-hoof­afrigter, saam met Laurian Johannes-Haupt, het aan Die Papier gesê hulle is tevrede met die sessies wat die span vir drie dae in Stellenbosch gehad het voor die finale voorbereiding in alle erns begin het.

“Ons kon fokus op wat ons goed gedoen en geleer het op die Europese toer. Ons het hoofsaaklik aandag gegee aan hoe ons die naweek se wedstryd wil benader en wat ons moet doen om ’n goeie resultaat te verseker.”

Franzel wil dié naweek voortbou op sy span se onlangse suksesse maar is deeglik bewus van haakplekke wat uitgestryk moet word.

“Die oorwinnings oor Italië en Spanje het aan die span goeie momentum verleen. Ons moes die wedstryde onder verskillende toestande en met uiteenlopende benaderings wen.

“Die spelers het gewys dat hulle oor goeie kreatiwiteit beskik om vinnig en goed aan te pas en die nodige regstellings te maak. Ons het baie aandag aan ons dissipline gegee en het veral op die onkantlyne en hoogvatte gefokus, omdat ons foute tot die minimum sal moet beperk.”

Springbok-vroue.

Ierland, wat tans die vyfde plek op die wêreldranglys beklee, gaan egter veel strawwer kompetisie wees. Suid-Afrika is tans tiende.

“Die Iere gebruik hul skopspel om in die regte areas te speel. Hulle probeer gereeld die bal dra en as hulle nie momentum kry nie, is dit juis wanneer hulle takties begin skop.

“Met goeie taktiese skopwerk en veral dwarsskoppe van hul skakelpaar en heelagter gaan hulle jou onder geweldige druk plaas.”

September is tevrede met die diepte in hul groep. Die stutte, Babalwa Latsha en Nombuyekezo Mdliki, is egter weens onderskeidelik enkel- en ribbeserings nie beskikbaar nie.

“Ons het genoeg spelers gedurende die jaar geleentheid gegee om die diepte van die span uit te brei. Spelers was ook deel van die akademie om fiks te bly en ons kan op enige lid van die groep staatmaak om hul deel teen Ierland by te dra,” sê September.

Sizophila Solontsi sal die kapteinskap by Latsha oorneem met Unam Tose, wat as onder-kaptein sal diens doen.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos