Tony Brown het onlangs onthul dat hy byna nooit deel van die Springbok-afrigtingsgroep geword het nie.
Brown speel sedert sy aanstelling as aanvalsafrigter in 2024 ’n sleutelrol in die uitbreiding van Suid-Afrika se aanvallende spel.
Hy is tot ná die Rugbywêreldbeker van 2027 gekontrakteer, waarna hy by die All Blacks sal aansluit.
Brown was ’n gas op die Plumtree Uncut Podcast, aangebied deur die voormalige Sharks-afrigter en Nieu-Seelander John Plumtree, waar hy bevestig het dat Felipe Contepomi hom genader het om by Argentinië aan te sluit terwyl hy op ’n aanbod van Suid-Afrika gewag het.
Brown het meer lig gewerp op sy besluit om Suid-Afrika toe te kom.
“Dit was saam met Jamie [Joseph], en ek het ná die Wêreldbeker van 2023 met Japan klaargemaak,” het Brown gesê.
“Rassie het my reeds gebel oor die moontlikheid om by Suid-Afrika aan te sluit, maar toe breek Kersfees aan en ek het nog nie ’n kontrak gehad nie.
“Ek het vir ’n paar maande niks van hom gehoor nie, en toe dink ek die geleentheid het dalk verbygegaan.
“Ek het ook nog ’n aanbod van Argentinië gekry, met Felipe Contepomi wat wou hê ek moes by hulle aansluit, maar ek het eintlik gewag dat Rassie my weer bel. Toe doen hy dit en sê: ‘Ons wil jou graag kontrakteer as jy belangstel,’ en ek het sommer dadelik gesê: ‘Ja, ek teken onmiddellik.’”
Brown glo hy het die regte besluit geneem.
“Ek is bly ek het. Dit is ’n ongelooflike span om af te rig en natuurlik ook ’n wonderlike land om baie tyd in deur te bring.
“Dit is ’n rugbyland, en selfs toe ek nog gespeel en hier getoer het, was dit iets besonders.
“Noudat ek hier afrig, is dit net so besonders.”
