Die Bulls se losvoorspeler Elrigh Louw het sy mening gegee oor Wêreldrugby se nuwe veranderinge aan die duikreëls, wat sogenaamde “hip drop-” en “knee drop”-duikslae verbied.
Die “hip drop”-duikslag, waar ’n speler sy liggaamsgewig gebruik om ’n teenstander grond toe te trek en van agter op die baldraer se bene neer te val, sal uitdruklik by die reëls oor vuilspel ingesluit word. Dit sal met minstens ’n strafskop gestraf word.
Die “knee drop”-duikslag, waar ’n speler op een of albei knieë sak voordat hy ’n teenstander lak, sal onder die aandag van spelers, afrigters en wedstrydbeamptes gebring word as ’n duikslag wat reeds deur die bestaande reëls gedek word. Dit kan ook met ’n strafskop gestraf word.
Dié tipe duikslae het al tot ernstige beserings in internasionale rugby gelei. Louw het self verlede seisoen so ’n besering opgedoen, wat hom vir ’n lang tyd op die kantlyn gehou het. Hy het eers onlangs teruggekeer.
“Dit raak my nogal persoonlik,” het Louw vroeër dié week aan verslaggewers gesê.
“Ek dink hulle het dié reël in ’n paar ander sportsoorte ingestel, soos die NFL, waar dit onwettig is. Ek dink dus dit is ’n uitstekende aanpassing vir rugby. Ons het verlede naweek weer gesien hoe iemand ’n enkelbesering weens ’n duikslag opgedoen het [tydens die Bledisloe-beker]. Ek is baie bly dat die reël verander is om spelers se veiligheid in die toekoms te bevorder.”
Louw het teruggekyk op sy herstelproses en sy terugkeer na die Springbokspan en erken dat hy ook geestelike uitdagings moes oorkom.
“Die besering is nou iets van die verlede, maar om ná die besering weer deel van die span te word, was amper net so goed soos die eerste keer wat ek vir die Bokke gespeel het,” het Louw gesê.
“Dit was vir my geestelik moeilik om terug te keer. Sommige mense keer net terug en speel weer op hul beste, maar ek moes hard werk om van my goeie spelvorm terug te kry.
“Ek dink nie ek is al heeltemal daar nie, om eerlik te wees, maar die geleentheid om weer deel van die Springbokspan te wees, was vir my enorm.”
