Verwag veel beter vertonings van die Cheetahs in vanjaar se Europese Uitdaagbeker-reeks.
Dié span van Bloemfontein speel Sondag om 13:55 in die eerste ronde teen Bayonne in Frankryk.
Ruan Pienaar, ’n voormalige Springbok-skrumskakel en hulpafrigter van die Cheetahs, het aan Die Papier gesê hul deelname aan die Toyota-uitdaagreeks en die Tbilisi-beker was ’n goeie en harde leerskool.
“Die twee kompetisies vanjaar het ons ’n beter span gemaak. ’n Groot groep van ons senior spelers het nie onlangs saam met die res van die span vir die Tbilisi-beker se wedstryde na Georgië gereis nie.
“Ons het ter voorbereiding vir die Europese Uitdaagbeker besluit om hulle in Bloem te hou. Ons het kliphard aan fiksheid gewerk. Die ouens is en het goed voorberei en ons sien uit na ’n goeie vertoning teen Bayonne.”
Die Cheetahs is op ’n goeie plek wat beserings betref met slegs hul losskakel, Jaco van der Walt, wat nog van ’n dyspierbesering herstel.
Pienaar is deeglik bewus dat dié kompetisie ’n perd van ’n ander kleur gaan wees.
“Om teen Franse klubs te speel, sal as gevolg van hul begrotings en die soort spelers wat vir hulle speel, altyd ’n groot uitdaging wees.
“Ons is nie altyd blootgestel aan daardie gehalte wedstryde in ons plaaslike kompetisies nie en dit maak die uitdaging nog groter. Ons is egter baie opgewonde en bevoorreg om deel van só ’n geleentheid te wees en beskou dit as een van die beste kompetisies in die wêreld.”
Frans Steyn, hoofafrigter van die Cheetahs, verwelkom die skuif na die opgeknapte St. Helen’s-stadion in Swansea, Wallis, wat as sy span se tuisveld sal dien.
“Dis ’n voorreg om die stadion, wat herontwikkel is en ’n trotse geskiedenis het, as ons nuwe tuiste te beleef en om op dié veld te speel. Op daardie noot – dit gaan oor veel meer.
“Die tuisveld maak nie werklik saak nie. Die span moet steeds by die wedstrydplan hou.”
