Daar bestaan die persepsie dat Latyn dood is, of in elk geval nooit regtig gepraat is nie.
Dit is ’n persepsie gebore uit onkunde. Latyn is nie dood nie, want ’n taal word nie sommer ’n museumtaal of ’n fossieltaal nie.
Dit leef voort in ’n ander vorm.
Hiermee wil ek ook die doemprofesie besweer dat Afrikaans eendag gaan uitsterf.
Vulgêrlatyn, Volkslatyn of informele Latyn, was die spreektaal in Rome en is gepraat deur die man in die straat: die soldate, die landelike bevolking en ander lede van die werkersklas.
Vulgêrlatyn leef vandag voort in ’n moderne formaat as Italiaans, met spore van Klassieke Latyn.

Spaans word wêreldwyd deur meer as 500 miljoen mense gepraat en is geanker in die Iberiese Skiereiland se evolusie van Vulgêrlatyn. Portugees het saam met Spaans ontwikkel uit Vulgêrlatyn in die westelike deel van die Iberiese Skiereiland. Frans het ontstaan uit ’n vermenging van Vulgêrlatyn en die plaaslike tale in Gallië (die huidige Frankryk) nadat die Romeine Gallië verower het.
Klassieke Latyn, soos gebruik deur die klassieke skrywers Vergilius, Cicero, Juvenalis en Tacitus was die standaardtaal wat in die reg, die opvoedkunde, in amptelike toesprake, briewe, die politiek en in die letterkunde gebruik is.
Hoewel Klassieke Latyn nie meer gepraat word nie, word dit nog bestudeer op skool en universiteit en dit leef ook voort in alle moderne tale in regs-, botanie- en anatomieterme en in die terminologie van verskeie ander vakgebiede.
Dit word selfs beraam dat tot 60% van die Engelse woordeskat van Klassieke Latyn afgelei is, so ook ’n groot deel van die Nederlandse woordeskat, en daarom ook van die Afrikaanse woordeskat.
So leef Latyn voort in ander tale, selfs Germaanse tale soos Engels en Afrikaans.
Die sterk Latynse invloed op Westerse tale spruit voort uit die gebruik van Latyn as voertaal van geleerdheid, van die wetenskappe en kunste, die universiteite en die kerk. Meer as ’n duisend jaar lank, dwarsdeur die Middeleeue, het Latyn die Westerse beskawing op sy skouers gedra. Daarna het Latyn ’n geweldige invloed op die Germaanse tale gehad, waarin Afrikaans ook, veral deur Nederlands, gedeel het.
Ons “praat” baie meer Latyn as wat ons besef en oor die volgende paar weke gaan ons kyk na Afrikaanse woorde van Latynse oorsprong.
Ons loop of kyk ons daagliks in Latyn vas: Latyn is elke dag op die voorblad van die koerant, oor die radio en op die kassie. Dit is in alles wat ons doen, van die kombuis tot in die hof, van die klaskamer tot in die kerk, van die plaas tot by die dokter, van die parlement tot in die sirkus (!) en in ons sport – elke dag breek inderwaarheid in Latyn aan . . .
- Dr. Botha is ’n onderwys-, woordeboek- en radioman met ’n honneursgraad in Latyn.
