Munisipaliteite se sosiale geregtigheid onder die vergrootglas

Stellenbosch Universiteit Foto: Flickr

Met die plaaslike regeringsverkiesing om die draai, sal munisipaliteite se vordering met die bekamping van armoede en ongelykheid onder die loep kom tydens die agtste Sosiale Geregtigheidsberaad wat vandeesmaand in Stellenbosch plaasvind.

Die tweedaagse beraad sal ondersoek of samewerking tussen die drie regeringsfere werklik tot meer billike ontwikkeling en beter lewensomstandighede vir Suid-Afrikaners lei.

Die fokus val onder meer op die Distriksontwikkelingsmodel, wat daarop gemik is om beplanning en dienslewering tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regerings te koördineer. Die beraad sal ook kyk na Suid-Afrika se vordering met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte.

Die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch bied die beraad in samewerking met verskeie vennote aan, onder wie die Verenigde Nasies in Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) en die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie.

Die beraad se tema is The District Development Model / Inter-Governmental Relations as Catalysts for Achieving SDGs and Social Justice.

Leiers en verteenwoordigers uit al drie regeringsfere, die parlement en regbank, asook tradisionele en Khoi-San-leiers, geloofsgemeenskappe, die burgerlike samelewing, die sakewêreld en jeugstrukture, sal aan die gesprekke deelneem.

Prof. Thuli Madonsela, direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid en bekleër van die Regsfakulteitstrust-leerstoel in Sosiale Geregtigheid, sal die beraad lei.

Sleutelsprekers sluit in dr. Namane Dickson Masemola, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, wat namens adjunkpresident Paul Mashatile sal optree, SALGA-president Bheke Stofile en adv. Kholeka Gcaleka, die openbare beskermer.

Die beraad wil ’n platform bied vir gesprekke oor aanspreeklikheid, beleidsvorming en die rol van plaaslike regering in die bevordering van sosiale geregtigheid.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos