Die Suid-Afrikaans gebore regsgeleerde Navi Pillay (85) is met die 2026-Nobel-vredesprys bekroon vir haar bydrae tot internasionale reg en die vervolging van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord.
Die Noorse Nobelkomitee het Vrydag die prys aan Pillay toegeken en haar werk om internasionale regsinstellings te versterk, beklemtoon.
Pillay is in Durban gebore en het tydens apartheid teen diskriminasie in die regstelsel geveg. Sy het anti-apartheidsaktiviste, onder wie Nelson Mandela, verdedig en later ’n internasionale loopbaan as regter opgebou.
Sy was van 2008 tot 2014 die Verenigde Nasies (VN) se hoëkommissaris vir menseregte en het ook by internasionale tribunale gewerk wat volksmoord en oorlogsmisdade ondersoek en vervolg. Sy dien tans as ’n ad hoc-regter by die Internasionale Geregshof.
Pillay het ook ’n VN-ondersoekkommissie gelei wat tot die gevolgtrekking gekom het dat Israel volksmoord in Gaza gepleeg het. Israel verwerp dié bevinding.
Die Nobel-vredesprys word op 10 Desember tydens ’n seremonie in Oslo, Noorweë, oorhandig.
Pillay is die vyfde Suid-Afrikaner wat die Nobel-vredesprys ontvang. Albert Luthuli was die eerste in 1960, gevolg deur aartsbiskop Desmond Tutu in 1984. Nelson Mandela en FW de Klerk het die prys in 1993 gedeel vir hul rol in die vreedsame beëindiging van apartheid.
