Die Konstitusionele Hof het duidelikheid gebring oor hoe aftreefondsbydraes vir sekere werknemers in Suid-Afrika se motorbedryf bereken moet word.
Die uitspraak bevestig die interpretasie van die Motorbedryf-bedingingsraad (MIBCO) se kollektiewe ooreenkomste en bepaal dat bydraes vir werknemers wat deur tydelike indiensnemingsdienste (TES) verskaf word, op ’n veronderstelde 45-uur-werkweek bereken moet word, eerder as slegs op die werklike ure wat gewerk is.
Die geskil het ontstaan oor die vraag of werkgewers by die berekening van providentfondsbydraes slegs die werknemers se werklike werksure moet gebruik, of die 45-uur-werkweek wat in MIBCO se Hoofkollektiewe Ooreenkoms bepaal word.
Die hof het MIBCO se interpretasie bevestig en bevind dat die Providentfonds-kollektiewe ooreenkoms saam met die Hoofkollektiewe Ooreenkoms gelees moet word.
Volgens Paulos Masemola, algemene sekretaris van MIBCO, versterk die uitspraak die beginsel dat kollektiewe ooreenkomste konsekwent toegepas moet word om werknemers se voordele te beskerm.
“Hierdie uitspraak bevestig die belangrikheid van ’n konsekwente, bedryfswye benadering tot die berekening van aftreefondsbydraes en verseker dat werknemers die beskerming en voordele ontvang wat deur kollektiewe bedinging beoog word,” sê Masemola.
Advokaat Michael Manolios, regsverbindingsbestuurder by MIBCO, sê die beskerming van werknemers se aftreevoordele is ’n kernverantwoordelikheid van die raad.
“Ons moet ons werk só doen dat die konsekwentheid in die berekening en invordering van aftreebydraes verseker word. Enige uitleg van wetgewing of ’n kollektiewe ooreenkoms wat tot verminderde voordele of ’n bedreiging vir sosiale sekerheid kan lei, moet voorkom word,” sê Manolios.
Die hof het ook die belang van kollektiewe ooreenkomste binne Suid-Afrika se arbeidsreg beklemtoon. Volgens MIBCO bevestig die uitspraak dat sulke ooreenkomste binne hul breër regulatoriese konteks gelees moet word en nie as losstaande bepalings nie.
MIBCO sê die uitspraak skep groter sekerheid vir werkgewers en werknemers en kan as riglyn dien in toekomstige geskille oor die uitleg van kollektiewe ooreenkomste en aftreefondsverpligtinge.
MIBCO verteenwoordig tans 23 513 werkgewers en 312 171 werknemers in die motorbedryf.
