Minder Eskom, meer eie krag

Riversdale sonplant Foto: Shanell Binedell
Riversdale sonplant Foto: Shanell Binedell

Terwyl munisipaliteite toenemend na alternatiewe vir Eskom kyk, wys Hessequa-munisipaliteit se nuwe sonkrag- en batteryprojek in Riversdale hoe plaaslike owerhede self meer beheer oor hul elektrisiteitsvoorsiening kan probeer neem.

Die projek, wat tydens die hoogtepunt van beurtkrag in 2023 ontstaan het, bestaan uit ’n 10 MW-sonkragplaas en ’n 10 MWh-battery-energiebergingstelsel.

Hessequa het in reaksie op ’n oproep van die Wes-Kaapse regering saam met ses ander munisipaliteite sakeplanne ingedien. Ná ’n haalbaarheidstudie en evalueringsproses is Hessequa se voorstel vir uitvoering gekies.

Die oorspronklike doel was om die munisipaliteit se afhanklikheid van Eskom tydens beurtkrag te verminder en die impak van kragonderbrekings op noodsaaklike munisipale dienste, ondernemings en inwoners te beperk.

Hoewel beurtkrag intussen afgeneem het, sê Hessequa die projek het nou ’n wyer doel: om elektrisiteitskoste te verlaag, spitsvraag te bestuur, plaaslik opgewekte krag beter te benut en die munisipaliteit se elektrisiteitsbesigheid finansieel meer volhoubaar te maak.

Die projek het R238 miljoen gekos, waarvan 75% deur die Wes-Kaapse regering en 25% deur Hessequa-munisipaliteit befonds is.

Die sonkragfasiliteit kan na raming sowat 15 miljoen kilowatt-uur elektrisiteit per jaar opwek. Riversdale se piekvraag is ongeveer 7 MW, met ’n gemiddelde vraag van sowat 4 MW.

Volgens Hessequa kan tussen 25% en 30% van Riversdale se energiebehoeftes deur die nuwe aanleg voorsien word.

Die battery stel die munisipaliteit in staat om oortollige sonkrag te berg en dit later, wanneer die vraag hoër is, te gebruik. Dit bied ook die geleentheid om sogenaamde energie-arbitrage toe te pas – met ander woorde, om energie op goedkoper tye te benut en die gebruik van duurder elektrisiteit tydens spitsperiodes te beperk.

Die finansiële voordeel strek volgens Hessequa reeds tot inwoners.

Die munisipaliteit sê die sonkragprojek se berekeninge het gehelp om die impak van Eskom se jongste tariefverhoging te beperk. Volgens die munisipaliteit kon die verhoging wat inwoners in Hessequa moes absorbeer van 9% tot 7% verminder word.

Die projek het ook ’n vaardigheidsontwikkelingskomponent. Hessequa het ’n geleentheid vir opleiding as ’n sonkragfotovoltaïese dienstegnikus geadverteer, met die oog op toekomstige werksgeleenthede vir jong mense.

Volgens die munisipaliteit het die projek ook belangrike lesse gelewer oor die kompleksiteit van groot hernubare-energieprojekte binne ’n munisipale omgewing.

Dit sluit onder meer befondsing, verkryging, regulatoriese vereistes, netwerkverbinding, kontraktuele verpligtinge en langtermynbedryf in.

Hessequa sê ’n munisipaliteit wat so ’n projek wil aanpak, moet daarom nie slegs op die tegniese bou van ’n sonkragaanleg fokus nie. Goeie finansiële beplanning, duidelike aanspreeklikheid, sterk bestuur en ’n deeglike begrip van die munisipaliteit se elektrisiteitsvraag is volgens hom net so belangrik.

Die Riversdale-aanleg is ook nie noodwendig die einde van Hessequa se planne nie.

Die munisipaliteit ondersoek verdere geleenthede vir hernubare energie en batteryberging in ander dorpe, waaronder Stilbaai, Albertinia en Heidelberg.

Hessequa sê sy langtermynbenadering gaan egter verder as munisipaliteite wat hul eie krag opwek. Dit sluit ook kleinskaalse ingebedde opwekking deur inwoners en ondernemings, energiedoeltreffendheid en vraagbestuur in.

Die doel is uiteindelik om elektrisiteitsopwekking, batteryberging en slimmer energieverbruik saam te gebruik.

Vir munisipaliteite soos Overstrand, wat ook na alternatiewe vir Eskom kyk, bied die Riversdale-projek dus ’n voorbeeld van wat plaaslike opwekking en berging kan behels – en van die finansiële, tegniese en bestuurswerk wat daarmee gepaardgaan.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos