Die Viëtnamese polisie het 12 mans in hegtenis geneem wat daarvan beskuldig word dat hulle tydens nagtelike rooftogte in woonbuurte byna 2 700 katte gesteel en vir slagting en menslike gebruik aangehou het, het die polisie en staatsmedia Maandag berig.
Masjiene vir die verwydering van pels, kattevalle en weegskale was onder meer van die items waarop beslag gelê is tydens die ondersoek na die beweerde katdiefstalnetwerk in Ho Chi Minh-stad.
Die eet van honde- en katvleis is wettig in Viëtnam, waar talle restaurante die vleis openlik adverteer. Verkopers moet egter sertifikate hê wat die herkoms van die diere bevestig.
Volgens mediaberigte kan gesteelde katte vir minstens 70 000 dong (byna R17) per kilogram aan restaurante verkoop word.
Die 12 mans is in hegtenis geneem op aanklagte van diefstal van eiendom en het erken dat hulle “ongeveer 2 700 katte van verskillende soorte gesteel en verhandel het”, het die polisie in ’n verklaring gesê.
Strafregtelike verrigtinge het Sondag begin, maar dit was nie duidelik wanneer die mans in hegtenis geneem is nie.
Volgens staatsmedia het die verdagtes tussen 23:00 en 04:00 toegeslaan. Hulle het in klein groepies op motorfietse deur woonbuurte beweeg en plaaslike katte gesteel.
Die netwerk is die eerste keer in Julie ontdek, waarna die polisie op 50 lewende katte, 55 kattevalle, twee weegskale en twee masjiene vir die verwydering van pels beslag gelê het.
Daar word beraam dat elke groep tussen vier en 10 katte per nag gesteel het.
Die polisie in Ho Chi Minh-stad het vroeër vanjaar 18 mense in hegtenis geneem wat daarvan beskuldig word dat hulle deel was van twee afsonderlike katdiefstalnetwerke.
