Toenemende woede oor voortslepende swak dienslewering in Kuruman

’n Slaggat in ’n woonbuurt. Slaggate kom in al die woonbuurte voor. Foto: Verskaf
’n Slaggat in ’n woonbuurt. Slaggate kom in al die woonbuurte voor. Foto: Verskaf

Die Ga-Segonyana-munisipaliteit in Kuruman is onder druk van inwoners weens groeiende woede oor swak dienslewering in verskillende woonbuurte. Dit te midde van bewerings oor finansiële wanbestuur en munisipale wanadministrasie deur opposisiepartye.

Ook is die munisipale bestuurder se optrede in ’n onlangse hooggeregshof-uitspraak deur die regters bevraagteken en is ’n tenderproses ongeldig verklaar.

Inwoners van Mothibistad en Wrenchville het hulle tot sosiale mediaplatforms gewend om klagtes oor infrastruktuur te lug.

Intussen sê DA-raadslid Braam van der Westhuizen hy kla al jare oor swak dienslewering en eis weer eens dat senior amptenare en raadslede leefstyloudits moet ondergaan.

In reaksie op die klagtes en bewerings het Martin Tsatsimpe, munisipale bestuurder, ’n amptelike verklaring uitgereik waarin hy die bewerings ontken. Hy skryf operasionele struikelblokke toe aan ernstige vandalisme van infrastruktuur en aktiewe konstruksie, en ontken bewerings van onwettige bestuurspraktyke.

Gebrek aan voorkomende instandhouding

Mogolodi Diemeng, ’n inwoner van Mothibistad, het ’n openbare pleidooi aan burgemeester Neo Masegela en Tsatsimpe oor rioolwater gerig wat lank reeds onophoudelik deur sekere strate stroom.

Sy sê strate het in riviere verander en opgedamde besoedelde water hou ernstige gesondheidsrisiko’s in, soos onuithoudbare stank, vlieë, muskiete en moontlike uitbrekings van cholera, diarree en velinfeksies veral vir kwesbare inwoners.

Diemeng het in haar plasing op Facebook munisipale instandhoudingspanne gekritiseer omdat “werkers net grond op die rioolpoele gooi en dit gelykskraap in plaas daarvan om die tegniese oorsake van die probleem reg te stel.”

Die strate in Mothibistad word volgens inwoners gereeld met rioolwater uit lekplekke oorvloei. Foto: Facebook,
Die strate in Mothibistad word volgens inwoners gereeld met rioolwater uit lekplekke oorvloei. Foto: Facebook,

Volgens inwoners is infrastruktuur gebroke weens ’n gebrek aan voorkomende instandhouding.

“Die gemeenskap eis dringende terreininspeksies, meganiese reiniging en pypherstelwerk, deeglike ontsmetting van die gebied, openbare instandhoudingskedules, en opvoedingsveldtogte vir mense om nie vreemde voorwerpe in die stelsel te gooi nie,” sê sy.

Intussen het Zaakir B. van Wrenchville in ’n openbare groep, Genoeg is genoeg, gesê die buurt gaan agteruit.

“Ons het groot slaggate, herhaalde rioolverstoppings, afgeskeepte basiese dienste en algemeen vervalle munisipale infrastruktuur en amptenare ontwyk hul aanspreeklikheid. Hoewel inwoners gereeld hul munisipale rekeninge betaal, misluk die plaaslike owerheid om basiese dienste te lewer. Inwoners van Wrenchville eis onmiddellike padherstelwerk, rioolopruiming en aktiewe munisipale ingryping.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos