Die Stormers kon nie twee oorwinnings uit twee wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap se eerste twee rondes behaal nie. Hulle het Vrydagaand met 17-13 teen Edinburgh verloor het.
Dit was ’n frustrerende aand vir John Dobson se span. Hul lynstane het behoorlik gesukkel nadat haker André-Hugo Venter vroeg in die wedstryd vir ’n kopbeseringstoets van die veld moes gaan, terwyl plaasvervanger Vernon Paulo in die winderige toestande gesukkel het.
Nog ’n groot probleem vir die Kaapse span was hul aanvallende spel, wat vir die tweede agtereenvolgende week té deurmekaar gelyk het ondanks goeie balbesitperiodes.
Met die wind in hul guns het Edinburgh in die sesde minuut eerste punte aangeteken toe losskakel James Grayson ’n strafskop oorgeklits het.
Die Stormers het aanvallend gespeel en in die 13de minuut self ’n strafskop verdien, maar die nuweling-losskakel Yaqeen Ahmed het sy eerste skop na die pale misgeskop.
Edinburgh het die wind uitstekend benut en dit vir die Stormers moeilik gemaak om uit hul eie helfte te kom. Die tuisspan het in die 18de minuut ’n kans gehad om hul voorsprong te vergroot, maar Grayson het ’n strafskop van 45 meter gemis nadat die Stormers by ’n afbreekpunt gestraf is.
Kort daarna het die Stormers Venter weens ’n besering verloor. Hoewel hulle vir ’n tydperk die meeste balbesit geniet en verskeie strafskoppe afgedwing het, kon hulle dit nie in betekenisvolle druk omskep nie omdat Paulo ses opeenvolgende ingooie by lynstane gemis het.
Edinburgh het die eerste helfte sterk afgesluit, maar uitstekende verdediging deur die Stormers het die tuisspan uitgehou ondanks verskeie aanvalle naby die besoekers se doellyn.
Ahmed het sake in die 47ste minuut gelykop gemaak toe Edinburgh gestraf is terwyl die Stormers in die tuisspan se 22-metergebied aangeval het.
Drie minute later het hy nóg ’n strafskop oorgeklits om die Stormers met 6-3 voor te laat loop, aangesien hulle die wind beter begin benut en die spel diep in Edinburgh se gebied gespeel het.
Tot Edinburgh se krediet het hulle die volgende 10 minute oorheers terwyl die Stormers se lynstaanprobleme voortgeduur het.
Die tuisspan het die eerste drie van die wedstryd gedruk toe Paul Hill van naby oorgegaan het vir ’n 10-6 voorsprong ná ’n briljante deurbraak deur plaasvervanger Jerry Blyth-Lafferty. Hill se drie het egter kort van die doellyn gelyk, maar dit is nooit hersien nie.
Om sake te vererger, het Seabelo Senatla ’n geel kaart ontvang vir ’n oortreding tydens die opbou tot die drie.
Kort daarna was dit weer 14 teen 14 toe Edinburgh se flank Freddy Douglas in die 62ste minuut vir ’n doelbewuste oortreding ’n geel kaart gekry het terwyl die Stormers aangeval het.
Die Stormers het ’n maklike drie punte van die hand gewys en eerder ’n skrum gekies.
Dit het byna die regte besluit geblyk te wees. Die Stormers het die bal na regs versprei en plaasvervanger Wandisile Simelane het oorgegaan, maar herhalings het getoon hy het met millimeters uit getrap. Die skeidsregter het daarom teruggegaan na ’n strafskop vir die besoekers.
Die drie het uiteindelik wel uit nog ’n skrum gekom toe die Stormers Edinburgh oorheers het, wat agsteman Hacjivah Dayimani die geleentheid gegee het om beheer te neem, op te tel en te druk. Die verdoelde drie het die Stormers met 13-10 laat voorloop.
Met nege minute oor het Edinburgh egter weer die voortou geneem toe plaasvervanger-vleuel Rory McHaffie ná verskeie fases naby die Stormers se doellyn in die linkerhoekie gaan druk het.
Grayson het die drie verdoel om Edinburgh met 17-13 voor te plaas.
Die Stormers het op die doodsnikke nog ’n kans gehad om die wedstryd te wen, maar nóg ’n mislukte lynstaan in Edinburgh se 22-metergebied het enige hoop verydel en ’n frustrerende aand vir die Kaapse span afgesluit.
