Siya Kolisi sal Vrydagaand vir die eerste keer in meer as vyf jaar vir die Stormers uitdraf wanneer hulle Edinburgh in ’n Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-wedstryd by die Hive-stadion aandurf.
Nadat hy teruggekeer het na die span waar sy professionele loopbaan begin het, sal Kolisi sy 119de wedstryd vir die Stormers speel wanneer hy Vrydag om 20:45 in Edinburgh op die veld hardloop.

Kolisi begin op flank, met Louw Nel wat sy eweknie aan die anderkant van die skrum sal wees en Riley Norton wat in die tweede ry posvat. Die enigste ander verandering aan die voorspelers is dat Ntuthuko Mchunu dié week in die voorry begin.
Onder die agterspelers is Stefan Ungerer en Yaqeen Ahmed die skakelpaar.
Daar is ook een nuwe gesig op die plaasvervangersbank, met Wandile Mlaba wat losvoorspelerdekking bied.
Stromers-breier John Dobson sê die fokus is daarop om die toer met ’n oorwinning af te sluit voordat die span na Kaapstad terugkeer vir vier agtereenvolgende tuiswedstryde.
“Verlede week se vertoning teen Connacht was in baie opsigte bemoedigend, maar ons wil graag ’n meer meedoënlose aanslag in ons spel sien, waaraan ons die week gewerk het.
“Ons weet Edinburgh is ’n moeilike plek om te speel en ons kry waardevolle ervaring terug met Siya, Ntuthuko en Stefan wat ingesluit is, saam met Yaqeen Ahmed en Wandile Mlaba, wat albei baie opwindende jong spelers is.
“Dit gaan ’n groot poging van al 23 spelers verg om die gewenste uitslag te kry voordat ons na Kaapstad terugkeer vir wat ’n bepalende tydperk in die konteks van ons seisoen sal wees,” het hy gesê.
