Regse politieke inisiatiewe en suksesse op plekke wêreldwyd maak deesdae heelwat nuus. Politieke suksesse in Duitsland en Frankryk en ’n soortgelyke opmars in Brittanje is voorbeelde.
Nader aan tuisbodem is daar Ernst Roets se Lex Libertas se Witkruis-inisiatief.
Dan natuurlik Leo Brent Bozell, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika. Hy is tans aan die ontvangkant van die Suid-Afrikaanse regering oor sy onlangse mediatoer ter ondersteuning van pres. Donald Trump se toenemende verharding jeens die land.
Al die verwikkelinge word met groot argwaan deur veral die progressiewes in die samelewing gevolg. Daar is ook ander welmenendes wat bekommerd is oor die skade wat ’n konserwatiewe en selfs regse oplewing vir menseverhoudinge, internasionale betrekkinge en handelsbetrekkinge het. In dié verband is die Witkruisprojek spesifiek onder skoot en as opportunistiese en skadelike sensasie veroordeel.
Wat dinge nie so eenvoudig maak nie, is dat elke wit kruis van Roets ’n naam van ’n werklike slagoffer van ’n plaasmoord bevat het. Dit is een ding om aanhoudend daarop te wys dat net soveel erge moorde reg deur die samelewing is. Maar moet dit daarom bloot aanvaar word?
Waar is die alternatiewe aksie, druk optrede en veral veroordeling wat geen ruimte of suurstof vir die Witkruisprojek sou laat nie? Is diegene wat nou so krities is dalk o, tog so versigtig, om die regering van die dag te takel en onder die nodige druk te plaas?
So het dekades lange swak regering deur sentristiese en progressiewe regerings oral oor dienslewering en veiligheid in duie laat stort. Buitelandse vlugtelinge is laat instroom sonder behoorlike beplanning, veral oor hoe om bronne met ’n sukkelende plaaslike bevolking te deel. Gepaardgaande ekonomiese probleme het die pad vir ’n konserwatiewe en regse oplewing geteer – ook vir Trump om in Amerika aan bewind te kom.
Selektiewe moraliteit gaan geen teenfoeter daarvoor wees nie – net soos ’n blindelingse navolging van die ANC se alarmmaking oor menseregtevergrype in Gasa.
Moet egter nie verwag dat ’n woord gerep sal word oor Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, se wanbestuur van lewensnoodsaaklike geld wat arm bejaardes, weeskinders, verstandelik gestremdes en ander weerloses nog swaarder laat kry nie. Subsidies uit ’n krimpende begroting word, hofsake ten spyt, ál later uitbetaal.
Die kwesbares ly honger, sit sonder krag en warm water, of word na meer bedenklike omstandighede uitgeplaas omdat inrigtings sluit – soms enkele kilometers van die luukse voorstede waar van die Gasa-pleitbesorgers bly. Maar daaroor swyg hulle. Lesufi is dan swart.
Voordat sentriste, konserwatiewes wat nie regs genoem wil word nie en progressiewes met meer daadwerklike praktiese oplossings kom wat vinnig implementeerbaar is, gaan hulle sukkel om die inisiatief terug te kry. Akademiese seminare en ’n ál harder geskreeu op die regses gaan nie help nie; ook nie selektiewe moraliteit oor wat werklik in die samelewing verkeerd is nie.
Uiteindelik gaan dit oor volhoubare ekonomiese groeikoerse en wat nodig is om dit te bereik; ook onversetlikheid teenoor mislukte regerings en enige onreg deur wie ook al. Dus die aanbied van ’n verbeeldingryke beter uitweg. Enigiemand wat hand opsteek?
