Bok-verslag: Sies Bokke, julle is beter as dit!

André Esterhuizen. Foto: X/Springboks
André Esterhuizen. Foto: X/Springboks

Nee wat, die Springbokke sal liefs so gou as moontlik van dié misbaksel van ’n toets in die Optus-stadion in Perth wil vergeet. Loshande die Bokke se swakste vertoning van die jaar.

Die Wallabies verdien om die wedstryd met 42-38 te wen en daarmee ook die Nelson Mandela-uitdaagskild omhoog te hou.
Daar was eers regtig dringenheid by die Bokke in die laaste paar minute om die kastaiings uit die vuur te krap maar helaas heeltemal te laat.

Hier is ons punte vir die Springbokke se vertoning in Perth

15 Aphelele Fassi (5)

Effe beter vertoning ná wat hy vroeër vanjaar tydens die Nasieskampioenskap opgedis het. Sy spelpeil is steeds nie waar dit kan wees nie.

14 Edwill van der Merwe (7)

Soek werk, orals op die verdediging. Verdien sy drie voor rustyd. Een van die beter vertonings op die dag.

13 Canon Moodie (7)

Goeie vertoning. Begin die beweging wat tot van der Merwe se drie lei. Baie goed op die verdediging en lyk skerp op die aanval.

12 André Esterhuizen (5)

Nagmerrie van ’n toets. Mis ’n paar onnodige duikslae. Kom net nie lekker aan die gang nie. Te veel ongedwonge fout begaan.

11 Ethan Hooker (6)

Word nie maklik op die verdediging of onder die hangskoppe geklop nie.

10 Handré Pollard (6)

Speel nie juis die wêreld aan die brand nie. Een of twee goeie oomblikke op die aanval en verdediging.

9 Herschel Jantjies (6)

Gebruik sy kans goed in die beginspan. Skerp vertoning en versprei vinnig. Soek gapings en geleenthede om die afbreekpunte.

8 Marco van Staden (5)

Nie veel van ’n impak gehad op die wedstryd nie.

7 Elrigh Louw (5)

Nie daai fisieke impak gesien wat van hom ’n Bok gemaak het nie.

6 Paul de Villiers (7)

Skitterend by die afbreekpunte. Het die vermoë om die momentum te swaai op die grond.

5 Franco Mostert (6)

Goeie terugkeer tot die span.

4 Eben Etzebeth (6)

Nie heeltemal die intensiteit en wendstrydwenner soos teen Nieu-Seeland nie. Dit gesê doen wat van hom verwag word net sonder die ‘wow’-faktor.

3 Zachery Porthen (5)

Niks om oor opgewonde te raak nie. Het nie veel van ’n impak op die wedstryd gehad nie.

2 Johan Grobbelaar (6)

Eerste toetsdrie in die 10de minuut. Ingooie by die lynstane werk goed en bring sy kant met puik duikslae.

1 Jan-Hendrik Wessels (6)

Een van sy beste toetse nog. Vreesloos en direk met die bal onder die arm. Staan sterk in die skrum.

Plaasvervangers

Die bielie van ’n plaasvervangerbank met Malcolm Marx , Ox Nché, Wilco Louw, Lood de Jager, Jasper Wiese, Morné van den Berg, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Quan Horn het nie die gewenste uitwerking gehad nie.

Die vars voorry van Nché, Marx en Louw het die skrum oemf gegee wat tot ’n strafdrie gelei het. Van den Berg die vonk of skrumskakel verskaf en self ’n puik drie gedruk.

Feinberg-Mngomezulu het ook ’n positiewe impak gemaak op die aanval maar die koeël was egter reeds deur die kerk.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos