Veertien mense is dood en nog 11 beseer ná twee afsonderlike skietvoorvalle in Khayelitsha en Lwandle die naweek.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, het die aanvalle veroordeel en gesê die omvang van die geweld het gemeenskappe getraumatiseer.
“Dit is gruwelike dade van geweld wat gemeenskappe getraumatiseer het. Daar kan geen regverdiging wees vir die doelbewuste neem van soveel lewens nie,” het Marais gesê.
Vier mans is Saterdagaand in Mthuma-straat, Site C, Khayelitsha, doodgeskiet. Drie van die slagoffers is op die toneel dood verklaar, terwyl ’n vierde man aan sy beserings beswyk het nadat hy na ’n mediese fasiliteit vervoer is.
In die vroeë oggendure van Sondag het gewapende aanvallers by ’n vermaaklikheidsplek in Lwandle losgebrand. Tien mense is dood en 11 beseer.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) het ’n multidissiplinêre span onder leiding van speurders van die Direktoraat vir Ernstige en Gewelddadige Misdaad saamgestel om die aanvalle te ondersoek.
Marais het die ondersoekspanne geloof en hulle versoek om alles moontlik te doen om vas te stel wat gebeur het, die verantwoordelikes te identifiseer en hulle voor die hof te bring.
“Almal wat ’n aandeel in hierdie aanvalle gehad het, moet verantwoordelik gehou en vervolg word waar die bewyse dit regverdig,” het sy gesê.
Sy het ook gewaarsku teen die groter netwerk agter gewapende misdaad en gesê diegene wat vuurwapens aan misdadigers verskaf, gewelddadige aanvalle organiseer of uitvoer, moet aanspreeklik gehou word.
Volgens Marais beklemtoon die twee skietvoorvalle die dringende behoefte aan voortgesette samewerking tussen SAPS en ander wetstoepassings- en regsinstansies om die verspreiding van onwettige vuurwapens en georganiseerde misdaad hok te slaan.
“Ons kan nie toelaat dat gemeenskappe gewoond raak aan die geluid van geweerskote of dat massaskietvoorvalle as ’n onvermydelike deel van die lewe aanvaar word nie,” het sy gesê.
Marais het ’n beroep gedoen op mense wat enige van die aanvalle gesien het of oor inligting beskik wat die ondersoeke kan help, om na vore te tree.
Inligting kan anoniem by SAPD se Crime Stop-lyn by 08600 10111, deur die MySAPS-toepassing of via die Stad Kaapstad se anonieme wenklyn by 0800 110 077 aangemeld word.
“Gemeenskapsamewerking is noodsaaklik as ons die siklus van geweld wil stop en diegene wat verantwoordelik is vir die bloedvergieting in ons gemeenskappe voor die gereg wil bring,” het Marais gesê.
