Die Bulls het stadig uit die blokke gekom teen Zebre in hul Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Italië op Saterdag, maar toe die roes eers afgeskud is, het die besoekers op tye uitstekende rugby gespeel en uiteindelik met 47-13 geseëvier. Die oorwinning het ook ’n bonuspunt opgelewer.
Zebre het die openingsfase oorheers terwyl die Bulls verskeie kere gestraf is. Die tuisspan het doelbewus vir aanvallende lynstane gekies om die Bulls diep in hul eie gebied vas te pen.
Zebre se dryfmaal was ook doeltreffend en hulle het daarin geslaag om oor die Bulls se doellyn te kom, maar die besoekers se verdediging het sterk gestaan en die drie verhoed deur die bal op te hou.
Die tuisspan het egter in die 13de minuut ’n 3-0 voorsprong geneem danksy ’n strafskop deur Tommaso Allan.
Die Bulls het geleidelik hul stempel op die wedstryd begin afdruk, maar swak uitvoering en hanteringsfoute het hulle telkens gekortwiek.
Hulle het nietemin in die 27ste minuut met 7-3 voorgekom nadat ’n dominante dryfmaal onwettig deur Zebre net ’n meter van die doellyn af laat kantel is, wat tot ’n strafdrie gelei het.
Die oortreding het Zebre ’n geel kaart gekos, wat die Bulls ’n numeriese voordeel gegee het.
Nog ’n strafdoel deur Allan het die agterstand in die 32ste minuut tot 7-6 verklein, maar Zebre het die daaropvolgende afskop swak hanteer. Die Bulls het balbesit herwin en slot Reinhardt Ludwig oor die doellyn gestuur vir ’n verdoelde drie wat die telling na 14-6 geneem het.
Dit het teen rustyd 21-6 geword toe skrumskakel Paul de Wet ’n Zebre-aanval uitstekend gelees het, die bal onderskep en sowat 40 meter gehardloop het vir die Bulls se derde drie. Die span van Pretoria het sodoende met ’n gerieflike voorsprong gaan water drink.
Die Bulls het in die tweede helfte volle beheer van die wedstryd oorgeneem en verdere drieë deur Ruan Vermaak, Harold Vorster, Reinhardt Ludwig en Zak Burger aangeteken.
Zebre het darem een keer teruggeslaan toe Alessandro Fusco vir die tuisspan gaan druk het, maar dit was nie genoeg om die Bulls se oorheersende vertoning te keer nie.
De Wet is as die speler van die wedstryd aangewys.
