Bulls teen Zebre: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Bulls-speler Marcell Coetzee.
Bulls-speler Marcell Coetzee. Foto: Anton Geyser/Gallo Images.

Ná 25 minute se speeltyd was die telling 3-0 in Zebre se guns en het die Bulls maar weinig van die bal gesien.

Dis hier waar kaptein Marcell Coetzee gewys het hy kan weereens sy span van voor lei. ’n Mens kon hom maklik met ’n destydse Duane Vermeulen vergelyk soos sy stormlopies verskeie Zebre-manne laat steier het.

Boonop was geen losgemaal in gevaar wanneer hy skoongemaak het nie. Hoewel Zebre Parma gereeld probeer het om die bal op die grond te steel, het Coetzee vinnig én uiters akkuraat skoongemaak.

Wanneer hy nie self gehardloop het nie, het hy verdedigers laat aarsel met sy kort aangee aan ’n spanmaat wat die bal vinnig wyd kon versprei.

In ’n tyd waar jy moet veg vir elke meter en moet lak laat die biesies bewe, word momentum en druk op jou teenstanders deur klein oomblikke gebou. Dis in hierdie klein oomblikke waar Coetzee uitgeblink het sodat daar ewe skielik groot oomblikke en ’n reuse telling agter die Bulls se naam gestaan het.

Sy twee hanteerfoute sal ’n wrang smaak in sy mond laat, maar alles wat om dit gebeur het, het beslis baie in die Bulls se guns gewerk.

Die Bulls se oorwinning van 47-13 het verseker dat al vier Suid-Afrikaanse spanne in die eerste ronde van die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen gewen het. Nie te versmaai nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos