Sharks teen Ospreys: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Jaden Hendrikse.
Jaden Hendrikse. Foto: Facebook/Sharks.

Dit bly belangrik om vordering en ’n verbetering te beloon. Dus is Sharks-skrumskakel Jaden Hendrikse ons speler van die wedstryd.

Hendrikse het baie belowend gelyk toe hy ’n paar seisoene terug vir die eerste keer die groen-en-goud oor sy kop getrek het. Maar verlede seisoen veral het sy stadige spel agter die oond die Sharks se momentum dikwels gebreek.

Nie meer nie. Hendrikse is weer fluks aan die werk en kry sy span aan die rol wanneer die voorspelers die swaar werk reeds verrig het.

Die Sharks se eerste drie is ’n versinnebeelding hiervan: Ná ’n skrum in die Sharks se helfte is Hendrikse drie keer deel van die aanval wat uiteindelik vir agtsteman Nick Hatton oor die doellyn help.

Met Luan Giliomee se drie het Hendrikse ook ’n goeie ondersteuningslyn gehardloop, sou die eersgenoemde dit nodig gehad het.

Hy het ook soos ’n wafferse Faf de Klerk (of deesdae Morné van den Berg) uitgeskiet op verdediging om die Ospreys-manne te laat sweet. Boonop het hy ook goeie dekking agter gebied wanneer sy teenstanders die bal geskop het.

As dit is hoe Hendrikse sy seisoen begin, kan hy dalk voor die einde van die jaar vir die Bokke uitdraf en beslis deel bly van Suid-Afrika se Rugbywêreldbeker-palnne vir 2027.

Uiteindelik sou Giliomee as die amptelike speler van die wedstryd benoem word; ’n eer wat hy beslis verdien het.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos