Jong Kapenaar sterf by Port Alfred

Foto: NSRI
Foto: NSRI

’n 32-jarige man van Kaapstad is dood nadat hy Vrydag 25 September in die moeilikheid beland het terwyl hy met ’n lyfplank (bodyboard) by Middle Beach in Kenton-on-Sea, Port Alfred, in die see was.

Drie barmhartige Samaritane het twee pienk reddingsboeie van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gebruik om die man uit die water te trek nadat ooggetuies alarm gemaak het.

Omstanders het op die strand met noodhulp begin.

Reddingspoging

Aiden Wood, woordvoerder en bootsman van die NSRI se Port Alfred-span, het gesê die diensspan is om 10:04 geaktiveer en het saam met die polisie en ander nooddienste na die toneel gehaas.

Volgens Wood het paramedici en NSRI-spanlede met hul aankoms op die toneel voortgegaan met gevorderde lewensondersteunende noodhulp en ’n defibrillator gebruik, maar alle pogings om die man by te bring was onsuksesvol. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die polisie het ’n geregtelike ondersoekdossier geopen.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos