Bok-stut Porthen oor Wallabies-toets: ‘Luister, spring in en probeer jou bes’

Zachary Porthen en Thomas du Toit. Foto: KickOff
Zachary Porthen en Thomas du Toit. Foto: KickOff

Springbokstut Zachary Porthen was gretig om die geleentheid aan te gryp om Sondag in Perth teen die Wallabies te speel en sê al die spelers is gereed vir die uitdaging by Optus-stadion in wat hul laaste toets voor die tweede been van die Nasieskampioenskap in November sal wees.

Springbok-afrigter Rassie Erasmus het 13 veranderinge aan die beginspan aangebring, wat beteken Porthen en sy mede-stut Jan-Hendrik Wessels sal saam met haker Johan Grobbelaar in die voorry uitdraf. Die voormalige Junior Bok-kaptein het egter gesê elke speler in die groep is opgewonde oor die geleentheid om weer die land in die groen en goud te verteenwoordig.

“Dit is toetsrugby,” het Porthen gesê.

“Almal wat op die veld draf, weet hoeveel dit vir hulle en vir die land beteken. Dit op sigself is genoeg om jou vir enige wedstryd op te laai.

‘Gewoond geraak’

“Ons het tyd gehad om aan Australië gewoond te raak sonder om te speel, maar met die veranderinge in die span hierdie week is baie van die ouens hongerder as wat ’n mens dalk sou dink.

“Die spelers wil weer op die veld wees om hulself te bewys en te wys wat dit vir ons beteken.”

Op die vraag wat die grootste lesse is wat hy geleer het sedert hy by die Springbok-opset betrokke geraak het en onder die huidige afrigtingspan gewerk het ná sy toetsdebuut teen Japan in November verlede jaar, het Porthen gesê: “Dit was om eerlik te wees ’n groot stap vorentoe, so dit is moeilik om een spesifieke ding uit te sonder.

“Met elke uitdaging pas jy by iets anders aan, en persoonlik, as ’n mens luister na wat die afrigters sê en dit ter harte neem, spring jy net in en probeer jou bes.”

Die Springbokke het Donderdag hul hoof-oefenblok van die week in Terrigal afgesluit – waar hulle volgende jaar tydens hul 2027-rugbywêreldbekertoefenkamp gebaseer sal wees – voordat hulle na Perth vertrek het vir die wedstryd. Hulle sal Vrydag hul tradisionele kapteinslopie by Optus-stadion hou.

  • Die wedstryd begin om 11:45 (SA-tyd).

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos