Wie is nou eintlik die hoipolloi?

Mense.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

’n Vriendin was onlangs verbaas om te hoor “hoipolloi” verwys nie na deftige mense nie, maar juis na die gewone mense – die plebs; die gepeupel.

“Hoipolloi” klink nogal soos ’n klomp mense wat met hoë neuse en duur skoene by ’n statige geleentheid rondstaan. Maar die woord beteken eintlik iets heel anders.

“Hoipolloi” kom uit Grieks en beteken letterlik “die vele”, oftewel “die menigte”.

In Afrikaans word die woord (volgens die woordeboeke) gebruik om neerhalend na die minder beskaafde of onopgevoede deel van die bevolking te verwys, óf na die swakker span in ’n wedstryd (dink maar aan die onlangse kragmeting tussen die Springbokke en die Nieu-Seelandse hoipolloi).

Tog word dit in die volksmond gereeld verkeerdelik as ’n spoggerige term vir die elite of die rykes gebruik.

Die verwarring is nie net ’n Afrikaanse verskynsel nie. In Engels word “hoi polloi” ook soms vir die hoër klasse ingespan. Die klank leen hom immers daartoe; dit roep maklik woorde soos “hoity-toity” op, wat onder meer “aanmatigend” of “verwaand” beteken.

In Afrikaans het ons boonop die heerlike woord “haaipolfaai”, ’n deftige, aanstellerige of hooghartige persoon. Dié woord is ’n prettige volks­etimologiese vervorming van die Engelse “high” saam met “polvy”, ’n ou Afrikaanse woord vir ’n hoëhakskoen.

Daar sit dus ’n hele klankfami­lie van woorde wat mekaar op die oog af – of eerder op die oor af – naboots, maar gans en verskillende betekenisse het.
Aan die een kant het ons “hoi polloi”, die menigte, en aan die ander kant sy arrogante neefs “hoity-toity” en “haaipolfaai” – mense wat met die neus veels té hoog in die lug loop.

Ná ons gesprek het ’n ander vriendin droog opgemerk: “My ma het altyd na die skoolhoof en sy vrou as ‘die hoipolloi’ verwys. Ek wonder nou of sy die woord verkeerd gebruik het en of sy dalk presies bedoel het wat sy gesê het . . .”

  • Van Helden is VivA se taalraadgewer.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos