Wat het ’n 18de-eeuse Pruisiese soldaat, skaapniervet en ’n braaibroodjie met mekaar te doen? Meer as wat jy dalk dink.
As deel van Frans de Villiers se navorsing oor die oorsprong van die braaibroodjie moes hy diep in ou reisjoernale delf, onder meer dié van Otto Friedrich Mentzel, ’n Pruisiese soldaat wat in die 1730’s in diens van die VOC aan die Kaap gewoon het en later uitgebreid oor die lewe aan die Kaap geskryf het.
Tussen Mentzel se talle waarnemings oor die Kaapse lewe het De Villiers afgekom op ’n interessante verwysing: mense op die platteland het destyds kerse van skaapniervet gemaak.
Dit het De Villiers op ’n ongewone idee gebring.
“Daar is mos min kombinasies lekkerder as braaibroodjies en skaaptjops, en dit het gelei tot hierdie bobaas idee: ’n braaibroodjie-kers van skaapniervet waarin jy jou braaibroodjie kan doop,” sê hy.
Die resultaat is ’n eienaardige, maar volgens De Villiers besonder lekker, samesmelting van Suid-Afrika se braai- en voedselgeskiedenis.
Hy beskryf dit as “dodelik lekker” – en vir diegene wat dié historiese eeteksperiment self wil aanpak, volg die resep en instruksies hieronder.
Wat jy sal benodig
- Minstens 500 g skaapniervet, afhangend van hoe groot jou kersvorm is. Ek het heelwat minder gebruik omdat ek ’n dun, lang kers gemaak het.
- 1 takkie vars roosmaryn
- 1 kersvorm, beskikbaar by handwerkwinkels
- 1 onbehandelde katoenpit. Maak seker dit is nie met paraffien behandel nie.
- 1 sosatiestokkie of potlood
- ’n Fyn sif
- ’n Hittebestande houer
- Warm braaibroodjies vir opdiening. Ek stel witbrood, kaas, tamatie en ui voor.
Só maak jy
1. Maak die niervet fyn.
Vra jou slagter spesifiek vir skaapniervet. Sny dit in klein blokkies en kap dit so fyn moontlik. Hoe fyner, hoe beter.
2. Smelt die vet uit.
Plaas die vet in ’n swaarboomkastrol oor lae hitte en roer nou en dan. Ná sowat 45 minute tot ’n uur behoort daar heelwat helder, vloeibare vet in die pot te wees, terwyl die oorblywende stukkies goudbruin begin raak.
3. Syg die vet.
Giet die warm vet deur ’n fyn sif in ’n hittebestande houer sodat die vaste, bruin stukkies agterbly.
4. Geur dit.
Plaas die vet terug oor baie lae hitte, voeg die roosmaryn by en laat dit vir ’n paar minute trek. Verwyder daarna die takkie.
5. Berei die vorm voor.
Trek die pit deur die middel van die kersvorm en maak dit aan ’n sosatiestokkie of potlood vas sodat dit reguit en in die middel bly.
6. Giet die kers.
Giet die warm vet stadig in die vorm. Laat dit eers afkoel en plaas dit daarna in die yskas totdat dit heeltemal hard is.
7. Keer dit uit.
Haal die kers versigtig uit die vorm en knip die pit tot ongeveer 5–8 mm.
Nou kom die lekker deel.
Plaas die kers regop op ’n groot, hittebestande bord en pak die braaibroodjies rondom. Steek hom aan en gee die vet ’n paar minute om te begin smelt. Soos die warm vet op die bord versamel, doop jy jou braaibroodjie daarin.
Dis ryk. Dis morsig. En dis belaglik lekker.
Frans de Villiers is die skrywer van Die geskiedenis van braaibroodjies, waarin hy die oorsprong en ontwikkeling van Suid-Afrika se geliefde braaibroodjie naspoor. Vind die boek by jou naaste winkel of aanlyn by www.geskiedenisvan.co.za

