Springbok-afrigter Rassie Erasmus het sy geskommelde wedstrydgroep van 23 spelers vir Sondag se toets teen die Wallabies in Perth verduidelik.
André Esterhuizen sal die Suid-Afrikaanse span aanvoer, wat verskeie spelers insluit wat min of geen speeltyd teen die All Blacks in die onlangs voltooide Greatest Rivalry-reeks gekry het nie.
Erasmus sê die doel is om al die spelers in die uitgebreide groep, insluitend dié wat van beserings terugkeer, ’n geleentheid te gee.
“Elke speler in hierdie groep het die afgelope paar maande hard geoefen en die kans gehad om in óf die eerste deel van die Nasieskampioenskap óf die Greatest Rivalry-reeks, of albei, te speel. Spelers soos Handré Pollard en Canan Moodie het intussen van beserings herstel, en almal is gehalte-spelers. Ons is dus bly om hulle ’n kans te gee en sien uit daarna om hierdie span in aksie te sien,” het Erasmus gesê.
Erasmus het ook beklemtoon dat die span met Australië se unieke uitdagings in gedagte gekies is.
“Australië bied ’n heel ander bedreiging as Nieu-Seeland met die manier waarop hulle speel, daarom glo ons hierdie kombinasies is die beste geskik vir die uitdaging wat ons teen hulle sal teëkom,” het hy gesê.
Vir Esterhuizen, wat vir die eerste keer ’n Bok-span vir ’n toets gaan aanvoer, beloof die wedstryd om ’n besonderse geleentheid te wees. Erasmus sê die binnesenter verdien die eer ten volle.
“Hy het die Sharks aangevoer en het op en van die veld af ’n groot bydrae tot ons groep gelewer, beide op senter en as losvoorspeler, en hy verdien hierdie geleentheid ten volle.
“Dit sal ook help om ons leierskapsgroep verder uit te bou, aangesien verskeie spelers die span die afgelope paar seisoene aangevoer het. Ons glo hy is die regte man om die kapteinskap vir hierdie wedstryd oor te neem.”
- Sondag se wedstryd begin om 11:45 SA tyd.
