Kykers sal vir JP Keyter onthou as aanbieder van Landbouweekliks, as ’n radioman op JacarandaFM en ook sportverslaggewer vir eNCA en eNuus. Nou het hy sy eie geselsprogram op VIA waarin hy weekliks uit die Oos-Kaap ’n allegaartjie aan kykers gaan bring, saamgestel uit interessante mense uit verskillende oorde.
Sy eerste gas is die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers, oftewel Snorre, soos hy in die rugbywêreld bekendstaan. JP se gesprek met hom en die lewe wat Peter tot hier toe gelei het, gaan kykers werklik verbaas laat. Weg van die rugby-fokus, stel hy die mens agter daardie wêreld aan kykers voor.

Daar is ook boeiende gesprekke met kenners op die gebied van sake, opvoeding, bewaring, gesondheid en gemeenskapswerk. Onder die gaste tel die renosterbewaringsaktiviste Johan en Susan Lottering, dr. Yolanda van der Merwe, die rapkunstenaar Stylo Windvogel en natuurbewaarder Justin Terblanche.
JP het sélf ook ’n paar vrae beantwoord.
Ons ken jou as JP Keyter, maar jou doopname is Jean-Paul Biko Keyter. Vertel vir ons die storie agter hierdie name?
Ek is in Uitenhage gebore, en my name dra nogal baie van my Oos-Kaapse geskiedenis saam met hulle.
Een van die groot ikone in my tuisdorp en die bruin gemeenskap was my ouers se predikant, eerwaarde Allan Hendrickse, ook die destydse leier van die Arbeidersparty. Hy en sy vrou, juffrou Terry Hendrickse, was nie net my ouers se predikant nie, maar ook mentors en goeie vriende van my ouers. My broer, wat vyf jaar ouer as ek is, is juis na eerwaarde Hendrickse vernoem.
My ouers het toe eerwaarde Hendrickse se suster Jean se naam en dié van sy broer, prof. Paul Hendrickse, gekombineer om my eerste naam, Jean-Paul, te vorm.
As Oos-Kapenaars het my ouers ook groot bewondering vir wyle Steve Biko gehad. My pa het sy begrafnis bygewoon. Ek is ’n jaar ná Biko se dood gebore, en my ouers het besluit om Biko se naam as my tweede naam te gee.
En dan is daar Keyter. Ons van is so eg Oos-Kaaps as kan kom. My oupa-hulle het in Despatch gewoon voordat hulle later na Uitenhage verhuis het.
So, wanneer ek my volle naam sê, vertel dit eintlik klaar ’n klein stukkie van waar ek vandaan kom en die mense en waardes wat my gevorm het.
Jy het reeds soveel verskillende hoede gedra – van die radio en TV-sportaanbieder tot Landbouweekliks en meer. Wat het elkeen van hierdie verskillende platforms vir jou geleer tot waar jy nou met jou eie program, Keyter vir almal, op VIA kuier?
Radio het vir my die grondslag van my veelsydigheid gelê, en ek moet spesifiek vir Magdaleen Krüger (voormalige hoof van RSG) en die oudnuusleser Terrance April krediet gee. Die SAUK het ons destyds baie deeglik opgelei.
Radio het my geleer hoe belangrik voorbereiding is, hoe om vinnig te dink en hoe om oor ’n ongelooflike wye reeks onderwerpe te kan gesels.
Toe ek en my goeie vriend, dié Johnny Davids, destyds as omroepers by RSG begin het, was daar selfs toetse wat jou algemene kennis getoets het. Jy moes oor alles van rymklets en operamusiek tot aktuele sake, politiek, sport en die natuur kon praat.
Televisie het my weer geleer dat geen program die werk van een persoon is nie. Dit is ’n spanpoging. Elke persoon agter die kamera, voor die kamera en in die redigering speel ’n belangrike rol. Dit het my geleer om ander mense se bydraes te waardeer en om te verstaan dat goeie televisie uit samewerking ontstaan.
Al hierdie ervarings het my uiteindelik gehelp om vandag my eie program te vervaardig en aan te bied.
Keyter vir almal is vir my ’n kans om alles wat ek oor die jare geleer het, in een plek saam te bring. Ons was ook die vervaardigers van die rugby-joernaalprogram Bôll & Ȏll en was bevoorreg om met die vervaardiging van Bôll & Ȏll ook ’n goeie samewerkingsooreenkoms met Schalk Burger sr., sélf ’n ikoon in rugby, landbou en die Afrikaanse gemeenskap, te hê.
Hoekom het jy besluit om die reeks in die Lombardini-wildsplaas by Jeffreysbaai op te neem? En watter rol speel die natuur vir jou tydens jou gesprekke met jou gaste?

Toe ek en my vrou, Anzél, met die konsep vorendag gekom het, het ons van die begin af besluit dat ons die reeks in die natuur wil verfilm.
Ons visie was om die natuurskoon en natuurlike landskap van die Oos-Kaap en ons mooi land as ons “ateljee” te gebruik. Ons wou nie hê die program moes soos net nog ’n gesprek in ’n tradisionele ateljee voel nie.
Lombardini is ’n besonderse plek. Die wildsplaas is ongelooflik mooi, met die see naby en die Afrika-sonsondergange wat ’n spesiale atmosfeer skep. Dit is ook die enigste renostertoevlugsoord in die Kouga-streek, en renosterbewaring is ’n saak wat vir my en Anzél baie na aan die hart lê.
Die natuur help ook om mense gemakliker te laat voel. Wanneer jy buite in ’n rustige omgewing sit en met iemand gesels, voel dit minder soos ’n formele onderhoud en meer soos twee mense wat saamkuier en ’n gesprek voer.
Selfs op dae wanneer die weer ons gedwing het om onderdak op te neem, was ons steeds in die natuur, met die oseaan ’n klipgooi van ons af. Dit vorm dus ’n belangrike deel van die identiteit van Keyter vir almal.
Jou eerste gas was Peter de Villiers, oftewel Snorre, soos hy in die volksmond bekend staan. Watter aspek van die oud-Bokafrigter het jou laat voel hy moet op jou program verskyn? En wat was vir jou die lekkerste of inspirerendste deel van sy storie wat jou sal bybly?

Ons was ongelooflik bevoorreg en dankbaar dat ’n ikoon soos Peter de Villiers ons eerste gas was.
Wat vir my besonders is, is Peter se sterk verbintenis met die Oos-Kaap. Hy het twee keer in sy lewe hierheen verhuis om in die provinsie te werk. Die eerste keer was in 2005, toe hy as afrigter van die Southern Spears aangestel is, en later weer in 2020, toe hy gedurende die Covid-19-pandemie as afrigter van die Oostelike Provinsie Rugbyunie aangestel is.
Maar dit is sy hele lewensverhaal wat my bygebly het. Daar is soveel meer aan Peter as net sy loopbaan in rugby. Hy en sy vrou, Theresa, het geweldige persoonlike verlies beleef met die dood van hul dogter, Odille (28) in 2019.
Peter vertel hoe Port Elizabeth, vandag Gqeberha, destyds vir Theresa ’n plek geword het waar sy weer haarself kon voel. Sy het daarna na die stad as haar “happy place” verwys. [Theresa is op 4 April 2022 oorlede.]
Uiteindelik het die Oos-Kaap ’n besondere plek in hul lewensverhaal geword. Dit is juis die tipe stories wat ek met Keyter vir almal wil vertel. Die mens agter die bekende naam.
Jy het ’n indrukwekkende gastelys – bekendes en minder bekendes, maar beslis mense met fassinerende stories. Was daar enigeen van hulle (selfs meer as een) wat jou absoluut geïnspireer het?
My vrou, Anzél, sê gereeld: “Dit is die Here se program.” Sy glo ons staan in diens van God, die Afrikaanse taal en ons gemeenskap. Hoe meer ek na ons gastelys kyk, hoe meer verstaan ek wat sy bedoel.
Interessant genoeg het baie van die mense wat ons aanvanklik wou nooi, ons uitnodigings van die hand gewys. Die mense wat wel ingestem het om deel te wees van die program, het mettertyd vir ons soos die regte mense vir die reeks begin voel.
Elke gas het my op ’n ander manier geraak. Ek het uit elkeen se verhaal iets geleer oor die lewe, oor verlies, oor deursettingsvermoë en oor wat werklik belangrik is.
As ek een persoon moet uitsonder, is dit dr. Yolanda van der Merwe. Sy was net 16 toe sy een oggend wakker word en besef sy kan niks sien nie. Later dieselfde dag is ’n breingewas by haar gediagnoseer en haar ouers is meegedeel dat sy moontlik nie die dag sou oorleef nie. Om te sien hoe sy daardie ervaring later as dryfkrag gebruik het om self ’n mediese dokter te word, het my diep geraak.
Sammy Jantjies, onderhoof van Paul Sauer Sekondêre Skool, se storie het ons ook emosioneel aangegryp. Sy ouers was ongeskoolde plaasarbeiders, en toe hy vertel hoe swaar dit vir hom is dat hulle nie meer daar is om saam met hom die vrugte van sy lewe te beleef nie, het ons almal saam gehuil.
En dan was daar Rachel John. Ek was diep beïndruk deur haar nederigheid, haar geloof en die liefde waarmee sy haarself aan die gemeenskap van Pellsrus in Jeffreysbaai gee.
Dit is vir my die wonderlike ding van mense. Jy hoef nie ’n bekende persoon te wees om ’n verhaal te hê wat iemand anders se lewe raak nie.
Wie sou jy ook nog baie graag op jou program wou sien? Jy mag maar wyd skiet – nie noodwendig plaaslike mense of selfs lewende mense nie.
As ek regtig mag droom, sou ek baie graag wyle dr. Anton Rupert, wyle pres. Nelson Mandela sowel as wyle eerw. Allan Hendrickse as gaste wou hê.
Ek het enorme respek en bewondering vir al drie van hulle, nie bloot vir wat hulle bereik het nie, maar vir hoe hulle dit bereik het. Al drie het ’n sterk Oos-Kaapse identiteit gehad, maar terselfdertyd die vermoë om ’n menslike band met mense te smee.
Ek sou ook baie graag met Johann Rupert en Hanneli Rupert-Koegelenberg wou gesels, veral om vir hulle dankie te sê vir die werk wat hulle in en rondom Graaff-Reinet doen.
En as ek nóg verder mag droom, sou dit wonderlik wees om mense soos die Britse sakemanne Steven Bartlett, Peter Jones en Touker Suleyman om die tafel te hê. [Die drie verskyn op Dragons’ Den, die BBC se program vir entrepreneurs.]
Maar dit is eintlik die hele punt van Keyter vir almal. Jy hoef nie ’n bekende naam te wees om ’n plek aan my tafel te hê nie. As jy ’n storie het wat iets oor die mensdom vertel, wil ek dit hoor.
Wat is vir jou die belangrikste bestanddeel van mense se stories? Gaan dit oor die egtheid, of is dit soms ook oukei as iemand net ’n lekker storie vertel sonder dat die feite in die pad daarvan kom?
Vir my begin dit by egtheid, menslikheid en verbondenheid. ’n Mens hoef nie beroemd, ryk of suksesvol te wees om ’n waardevolle storie te hê nie.
Ek dink ons het oor die jare so ver van mekaar begin leef dat ons soms vergeet dat elke mens se ervaring waarde het. Elkeen van ons ken pyn, verlies, hoop, teleurstelling, liefde en oorwinning op een of ander manier.
Dit is vir my die mooi ding van ’n goeie gesprek. Jy luister na iemand anders se verhaal en skielik herken jy iets van jouself daarin. Jy besef jy is nie die enigste een wat deur iets gegaan het nie.
Maar die storie moet vir my eg wees. Dit hoef nie dramaties of perfek te wees nie. Ek sal eerder na ’n eenvoudige, eerlike verhaal luister as na ’n indrukwekkende verhaal wat opgeblaas of aangepas is om beter te klink.
Mense voel wanneer iemand opreg is. Dit is waarna ek in elke gesprek soek.
Wat doen JP as hy die slag tuis is? Wat laat hom tiek?

Ek is eintlik ’n redelike eenvoudige mens wanneer ek by die huis is.
Ek en Anzél begin meeste oggende vroeg. Om vyfuur stap ons graag op ons gunstelingstrand, Astonbaai, en daarna begin ons dag. Dit is vir ons ’n lekker manier om die dag saam te begin voordat die werk en alles wat daarmee saamgaan, inskop.
Ek hou daarvan om te lees, veral ’n wye verskeidenheid boeke. Ek kyk ook graag sport, met rugby natuurlik heel naby aan die bopunt van die lys. Ek bestee graag tyd saam met familie en ek hou daarvan om oor nuwe idees te dink en aan nuwe projekte te werk.
Jeffreysbaai en die Kouga het ook ’n wonderlike koffiekultuur. Een van ons gunstelingplekke om te kuier is Bruces-koffiewinkel by die Granny’s Pools in St. Francisbaai. Goeie koffie, ’n mooi uitsig en tyd saam met Anzél is vir my moeilik om te klop.
Ek is op my gelukkigste wanneer ek saam met Anzél is, koffie drink, lees en net tyd het om asem te haal. En wanneer ek tyd het om stil te raak en tyd met die Woord van die Here deur te bring.
Droom jy nog oor ander dinge wat jy ook wil doen en wat is op jou emmerskoplysie? Vertel gerus meer.
Definitief. Ek is van jongs af entrepreneuries en ek dink ek sal altyd nuwe dinge wil bou, skep en aanpak. Ek en Anzél droom groot oor wat ons met Keyter Media kan bereik.
Ons wil oor die volgende paar jaar nog baie meer oorspronklike inhoud vervaardig en Keyter Media verder uitbou as ’n gevestigde Afrikaanse produksiehuis. Ons wil ons eie stories en intellektuele eiendom ontwikkel, meer televisie- en digitale inhoud vervaardig en uiteindelik ook projekte skep wat buite Suid-Afrika aanklank vind.
Ek wil ook graag jong mense in die Oos-Kaap ’n geleentheid gee om hulself in die mediawêreld te ontwikkel. Daar is soveel talent hier. Ek glo ons moet meer van ons eie stories vertel en mense uit die Oos-Kaap ’n platform gee.
Maar my emmerskoplysie gaan nie net oor werk nie.
Ek en Anzél wil bitter graag weer na Luxemburg-stad in Luxemburg terugkeer. Ons het ons harte aan die stad en die mense daar verloor. Ons wil ook vanjaar leer surf, en oor ’n paar maande begin ek met my eerste gholflesse. Ek dink ek gaan nog baie lag vir myself op die gholfbaan.
Vir my gaan ’n emmerskoplysie uiteindelik nie net oor hoeveel dinge jy nog wil bereik nie, maar oor hoeveel mense se lewens jy positief raak terwyl jy dit doen. As ek eendag terugkyk, wil ek weet ek en Anzél het iets gebou wat groter as onsself is, iets wat mense vermaak, inspireer en hoop gee.
- Die reeks van 13 episodes, met Value Added Life as hoofborg, begin op 22 September en word Dinsdae om 19:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
