Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, glo Australië sal ’n taai teenstander wees wanneer die spanne Sondag in Perth in ’n eenmalige toets ontmoet.
Die Bokke gaan die wedstryd binne ná hul 3-1-oorwinning in die Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks, en Erasmus sal na verwagting verskeie veranderinge aan sy span aanbring vir die kragmeting teen die Wallabies.
In ’n onderhoud met die Sydney Morning Herald het Erasmus gesê Australië is een van die moeilikste spanne om te ontleed.
“Ons vind dit ongelooflik moeilik om teen hulle te speel. Ek weet nie hoekom nie,” het Erasmus gesê.
“Jy kan nie sê Australië speel op ’n bepaalde manier nie. Dit maak dit vir my ook moeilik om hulle te ontleed.
“Ons het geweldige respek vir die Wallabies. As jy na die geskiedenis kyk, sukkel ons teen hulle. Ons dink nooit ons het hulle onder die knie nie.”
Erasmus het terugverwys na verlede jaar se Rugbykampioenskap-wedstryd op Ellispark, waar die Bokke met 22-0 voorgeloop het voordat Australië teruggeveg en met 38-22 gewen het.
“Dit was op hoogte [bo seespieël], en hulle het eers daardie week ingevlieg,” het hy gesê.
“Daar was ’n bietjie arrogansie aan ons kant toe ons met 22 punte voor was en gedink het: ‘Dis maklik, manne.’
“Ek sal nie sê dit was disrespek nie, maar ons het domweg gedink ons kan nou sommer loslit-rugby teen Australië speel.
“Hulle het dit hanteer en ons aan flarde geskeur.
“Hulle kon selfs nog meer punte in daardie wedstryd aangeteken het. Hulle het ons verpletter.”
- Die toets in Perth skop Sondag om 11:45 (SA tyd) af.
