’n Pa, ’n seun en ’n gedeelde liefde vir padel . . . dit is die hart van VIA se nuwe reeks Padel in die bloed. Corné en Morné Liebenberg reis deur Suid-Afrika om ander pa-en-seun-pare op 13 padelbane uit te daag. Van Dullstroom en Hoedspruit tot Jeffreysbaai ontdek hulle die mense en stories van elke plek voordat die kompetisie by Zorgvliet in die Wes-Kaap ’n hoogtepunt bereik.
Tussen die wedstryde, oefensessies en lang ritte kry kykers ’n intieme blik op hul verhouding. Vir Corné is dit ’n kans om kosbare tyd saam met sy seun deur te bring; vir Morné is dit ’n tree nader aan sy sportdrome. Corné vertel hoe dié avontuur hulle nader aan mekaar gebring het – en waarom ’n pa soms die belangrikste lesse by sy seun leer.
Waar het jul liefde vir padel begin, en wie het wie eerste saam baan toe gesleep?
Morné was eerste. Hy het in November 2024 op vakansie in Umhlanga vir die eerste keer padel gespeel en daarna al hoe meer saam met sy pelle baan toe gegaan. Ek het eers vanjaar begin. Ek het toe al 45 jaar lank muurbal gespeel, maar besef dat ek ook ’n padelraket sal moet optel as ek regtig tyd saam met my seun wil deurbring. Hy het mý dus baan toe gesleep – en hy is steeds ver voor my!
In Padel in die bloed daag julle ander pa-en-seun-pare oral in Suid-Afrika uit. Wat maak julle ’n gedugte span, en waar verskil jul benadering tot die spel?
Ons verhouding maak ons ’n span. Ons word nie kwaad vir mekaar nie. As een ’n fout maak, praat die ander hom moed in.
Ons benadering tot die spel verskil egter heeltemal. Ek kom uit muurbal en tennis, en my ingesteldheid was nog altyd om die punt met ’n harde hou te probeer wen. Morné speel met meer geduld. Hy hou die bal in die spel en wag dat die teenstander ’n fout maak. Tog is daar ook ’n omkeer wanneer ons op die baan stap. Van die baan af is hy die kalm een, maar op die baan kom sy aggressiewe kant na vore.
Dié reis gaan vir jou oor kosbare tyd en lewenslesse saam met Morné. Wat het jy by jóú seun geleer?
Die grootste les was om kalm te bly en te onthou dat wen nie alles is nie. Morné is ongelooflik volwasse in sy besluitneming. Elke keer as ek ’n fout maak, is hy die een wat my moed inpraat.
Die ironie is dat die program bedoel was om lewenslesse aan hóm oor te dra, maar op die ou end het hy waarskynlik meer vir mý geleer. My les vir hom bly: As jy van die perd afval, klim weer op. Sy les vir my is om jou beste te gee, want jou beste is goed genoeg, ongeag wat die telbord sê.
Morné het groot sportdrome. Waarheen mik hy, en hoe het dié reeks hom as sportman laat groei?
Sy groot droom is om Suid-Afrika eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Hy het sy visier gestel op 2032 met die hoop dat padel teen daardie tyd deel van die Olimpiese program sal wees.
Dit is ’n groot droom, maar die spoed waarteen hy vorder, gee my hoop. Padel is nog betreklik nuut in Suid-Afrika, iets wat hom die geleentheid gegee het om vinnig opgang te maak.
Wat hom laat groei het, is die besef dat jy bereid moet wees om méér te doen. Almal oefen hard; jy moet dink oor wat jy nog kan doen om te verbeter.
Hy werk nie net aan sy spel op die baan nie, maar ook aan sy krag, herstel, kopwerk en visuele vaardighede. Dit sluit tyd in die gimnasium en sessies by die fisioterapeut, sy kopafrigter en oogkundiges in. Talent alleen gaan jou nie daar bring nie.
Wanneer die telling knap raak en die druk opbou, hoe praat julle met mekaar? Is dit maklik om raad van jou pa of jou seun te aanvaar?
Ons kommunikasie is ons redding. Ons bly kalm en positief, selfs wanneer dinge skeefloop, en ons trap mekaar nooit uit nie. Ek ontleed elke punt en lewer amper lopende kommentaar. Morné bly kalm en help ons om op die volgende punt te fokus.
Dit is nie moeilik om mekaar se raad te aanvaar nie, want ons leer verskillende dinge by mekaar. Hy weet baie meer van padel as ek. Ek kan weer my lewenservaring met hom deel en hom help om perspektief te behou. Dit werk albei kante toe.
Kykers sien ook jul oefening, dieet en kopwerk. Wat verg dit om goed voorbereid op die baan te stap, en wie is die gedissiplineerdste?
Dit verg harde werk en konsekwentheid – van wat jy eet tot jou krag- en fiksheidsoefeninge, en selfs oefeninge vir jou perifere visie. Maar vir my is kopwerk die belangrikste deel van padel. Wanneer twee pare ewe sterk is, maak die klein dingetjies dikwels die verskil.
Die gedissiplineerdste is beslis ek! Morné is jonk en fiks en het aangebore talent. Ek is 58 en moet ekstra hard werk om by te bly. Ek doen dit graag, want ouderdom is net ’n nommer in jou ID-boekie. Die moeite wat jy insit, maak aan die einde van die dag die verskil.
Julle roete strek oor 13 bane, van Dullstroom en Hoedspruit tot Jeffreysbaai. Watter plekke het julle veral bygebly?
Dit is amper onmoontlik om een uit te sonder want elke baan het sy eie bekoring. Wat jou bybly, is die atmosfeer: die dorp se mense, hul gasvryheid en die energie wat hulle baan toe bring.
Die omgewing maak elke ervaring besonders. In Dullstroom speel jy tussen die koppies en berge. In Hoedspruit is jy in die dorp, maar dit voel asof jy in die bosveld is. Kathu gee jou daardie gevoel van ver weg wees. Kampsbaai is pragtig, en Zorgvliet lê weggesteek tussen die wingerde. Selfs by The Grove in Pretoria staan die bome só om die baan dat jy amper vergeet jy is in die stad.
Wat maak padel vir julle so lekker, en watter raad het julle vir ’n pa en seun wat saam wil begin speel?
Dit is ’n kombinasie van dinge, maar die woord wat dit die beste saamvat, is die “vibe”. Padel is ’n sport wat jy sáám speel. Vir ons is sportmanskap deel van die lekkerte en as daar twyfel oor ’n punt is, speel ons dit sommer oor.
Dan is daar die klank van die bal teen die raket en die glas rondom jou. En jy stap nooit van die baan af sonder om te dink jy kan volgende keer beter doen nie.
Die lekkerste is dat oud en jonk saam kan speel. My raad aan enige pa en seun is eenvoudig: Begin net. Ouderdom hoef jou nie terug te hou nie; jy kan jou vaardighede ontwikkel namate jy speel.
Sonder om die uitslag weg te gee: Hoe het julle die Kampioen-van-kampioene-eindronde by Zorgvliet benader?
Ons benader elke wedstryd op dieselfde manier, of dit nou ’n sosiale wedstryd of ’n eindronde is. Dit begin by voorbereiding. Het jy gestrek, reg geëet, jou elektroliete ingepak en jou kop rustig gekry?
Ons het ’n tradisie om op pad na ’n wedstryd musiek te luister wat ons motiveer, lekker te gesels en soms saam te bid. Dan stap ons op die baan met die wete dat ons voorbereid is.
Vir ons gaan dit nooit oor wen ten alle koste nie. Só plaas jy net onnodige druk op jouself en maak jy foute. Gee jou beste. Dit is goed genoeg.
Hoekom moet mense Padel in die bloed kyk?
Ons hoop mense sien iets van hul eie gesinne in ons raak. Ons is ’n doodgewone familie wat met niks begin het nie, met dieselfde uitdagings as soveel ander huishoudings: geld, werk, skool, selfone en boelies. Ons wil wys dat ’n pa en sy kind met mekaar kán praat.
Vir my was die tyd saam in die motor en tydens ons voorbereiding die grootste geskenk. Ons skerts baie, veral wanneer ons moet inweeg en mekaar terg oor wie fiks is en wie nie. Daardie gesonde kompetisie bring die beste in ons albei na vore.
Maar dit is in die motor waar ons regtig tyd kry om te gesels. Morné deel wat hy by sy kerkgroepe leer, en ek deel wat ek in 58 jaar geleer het. As ek voel ’n les gaan té direk oorkom, vra ek eerder wat hy eendag vir sý kinders sou sê. Dan praat ek eintlik met hóm, en ek hoop hy luister.
Kykers gaan ook ons pragtige land sien en dorpies ontdek wat hulle dalk nog nie ken nie. En hopelik inspireer dit hulle om van die bank af op te staan. Hoe oud jy ook al is, jy kan steeds aktief wees. Die vrugte van die moeite wat jy vandag insit, pluk jy later. Gary Player is vir my ’n pragtige voorbeeld daarvan.

- Padel in die bloed begin op 27 September 2026 en word Sondae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die reeks bestaan uit 13 episodes, met Laeveld Agrochem as hoofborg.
