Twee verkeersbeamptes is beseer en drie verkeersvoertuie beskadig nadat ’n skare motoriste en toeskouers glo op verkeersbeamptes toegesak het tydens ’n onwettige straatren in Paarden Eiland, Kaapstad.
Volgens JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het beamptes kort ná 23:00 twee motoriste in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur en deelname aan ’n onwettige straatren.
Die straatrenne het omstreeks middernag hervat, waarna ’n derde bestuurder in hegtenis geneem is. Hy word onder meer aangekla van deelname aan ’n onwettige straatren, dronkbestuur, versuim om te stop en opsetlike saakbeskadiging nadat hy met ’n verkeersvoertuig gebots het.
Toe beamptes probeer het om die voertuig te skut, het die skare toeskouers volgens Smith vyandig geraak en nog twee verkeersvoertuie beskadig. Een voertuig se sy- en agterruite is stukkend geslaan.
Twee verkeersbeamptes is in die voorval beseer.
Beamptes van die Maitland-polisie het op die toneel opgedaag om hulp te verleen. Die polisie en verkeersbeamptes het daarna ’n voertuig agternagesit wat hulle probeer skut het en wat intussen van die toneel weggesleep is.
Die bestuurder is in hegtenis geneem op aanklagte wat onder meer oproerige gedrag, intimidasie, dreigemente teenoor ’n vredesbeampte, die belemmering van ’n vredesbeampte en aanhitsing tot geweld insluit.
Al vier verdagtes is by Maitland-polisiekantoor aangehou, terwyl al drie voertuie wat in die onwettige straatrenne gebruik is, ingevolge die Stad Kaapstad se verkeersverordeninge geskut is.
Marine Drive is om 01:45 skoongemaak.
Smith het die aanval op die verkeersbeamptes veroordeel en gesê die Stad sal saam met die polisie werk om ander persone wat moontlik by die aanval betrokke was, te identifiseer.
Die Stad bied ook ’n beloning aan vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming van persone wat verkeers- en wetstoepassingsbeamptes aangeval het.
Anonieme wenke kan 24 uur per dag by 0800 110 077 ingedien word.
