Faf de Klerk se onlangse afwesigheid uit die Springbokgroep het nuwe vrae oor die tweemalige Wêreldbeker-wenner se toekoms laat ontstaan, maar die 34-jarige skrumskakel het dit duidelik gemaak: hy is nog lank nie gereed om sy tokse op te hang nie.
De Klerk, wat Suid-Afrika in 2019 en 2023 gehelp het om die Wêreldbeker te wen, het steeds sy visier op die 2027-toernooi in Australië.
In ’n openhartige gesprek op die rugby-potuitsending For the Love of Rugby: South Africa, saam met sy voormalige Springbok-spelers Steven Kitshoff en Trevor Nyakane, het De Klerk verduidelik dat ’n derde Wêreldbeker ’n doelwit is waarvoor hy en sy vrou, Miné, bewustelik werk.
“Ek gaan voluit vir daardie plek,” het De Klerk in die gesprek gesê oor sy ambisie om ’n plek in die Springbokgroep vir die volgende Wêreldbeker te verdien.
Hy het ook beklemtoon dat sy vertonings vir die Toyota Cheetahs sy belangrikste roete terug na die nasionale span is.
“Ek wil vir my klubspan presteer, want dit is waar jy gekies word. Ek gaan alles moontlik doen om die Vrystaat beter te maak, vir die span en vir myself, en om in alles te verbeter. As hulle ’n ander rigting wil inslaan, sal ek hulle heelpad ondersteun.”
Dit is egter nie net De Klerk wat glo sy Springbokstorie is nog nie verby nie.
Rassie Erasmus het vroeër vanjaar spesifiek beklemtoon dat die veteraan steeds op die Springbokke se radar is.
“Ons weet wat Faf kan doen. Ons het al met hom gewerk, saam met hom geoefen, en ons ken sy waarde,” het Erasmus gesê.
Dié Springbok-afrigter het verder gesê die lys spelers wat steeds vir die 2027-Wêreldbeker oorweeg word, “strek baie verder as ouens soos Faf en Vincent Koch”.
Dit beteken De Klerk se uitsluiting uit die jongste groep moet nie as ’n amptelike einde van sy Springbok-loopbaan beskou word nie. Erasmus is besig om ’n wye groep spelers te toets en diepte vir 2027 te bou.
De Klerk se eie boodskap is intussen ewe duidelik.
“Baie mense dink ek het Bloemfontein toe gekom om af te tree, maar dit is glad nie die geval nie. Ek wil steeds speel, ek wil steeds kompeterend wees en ek wil die beste in my posisie wees.” het hy aan die media, onder meer SA Rugby Magazine en OFM gesê.
Ná vier seisoene by die Yokohama Canon Eagles in Japan het De Klerk vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer en ’n tweejaarkontrak met die Cheetahs onderteken.
Die skuif na Bloemfontein gee hom nou die geleentheid om gereeld te speel, sy wedstrydfiksheid te behou en homself weer aan die Springbokkeurders te bewys.
Hy het reeds sy waarde gewys, met onder meer twee drieë teen die Sharks XV en ’n wendrie teen die Stormers XXIII in die 79ste minuut.
Intussen was daar ook belangstelling van die Stormers, maar Cheetahs-afrigter Frans Steyn het bevestig dat De Klerk in Bloemfontein bly.
Vir nou is sy onmiddellike fokus dus die Cheetahs. Die groter prentjie bly egter 2027.
De Klerk sal 35 wees wanneer die volgende Wêreldbeker begin. Hy het reeds twee Wêreldbekermedaljes en 60 toetse agter sy naam.
