Suid-Afrika kry in Januarie volgende jaar ’n internasionale motorsportskouspel wanneer die bekende 24-uur-uithouren van Dubai na die Kyalami Grand Prix-renbaan verskuif word.
Die Nederlandse promotor Creventic het aangekondig dat die Michelin 24H Dubai nie in 2027 aangebied sal word nie. In die plek daarvan sal die eerste Michelin 24H Kyalami van 8 tot 10 Januarie plaasvind, op dieselfde naweek wat oorspronklik vir die Dubai-wedren bestem was.
Die besluit is geneem teen die agtergrond van die voortslepende onsekerheid in die Golfstreek, wat volgens Creventic ’n direkte invloed op logistiek, vervoerbeplanning en koste het. Die organiseerders het gevolglik besluit om hul tradisionele winterprogram in die Midde-Ooste aan te pas.

Helen Roukens, algemene bestuurder van Creventic, het gesê dit was ’n moeilike besluit om die gevestigde Midde-Ooste-kalender te verander, maar dat Kyalami weens sy geskiedenis, fasiliteite en ikoniese uitleg ’n besondere geleentheid bied.
Vir Kyalami is dit ’n belangrike toevoeging tot die baan se lang lys internasionale motorsportgeleenthede. Die baan het ’n trotse uithourenverlede, met die legendariese Kyalami 9-uur onder sy bekendste wedrenne.
Die nuwe 24-uur-ren sal egter ’n eerste wees vir Suid-Afrika as deel van die Michelin 24H Series.
Spanne en jaers sal ook nie sommer op die groot dag in die diep kant gegooi word nie. Creventic beplan drie amptelike toetsdae gedurende die renweek, wat deelnemers die geleentheid sal gee om vertroud te raak met die uitdagende Kyalami-uitleg en draaie soos Crowthorne en Mineshaft.

Toby Venter, uitvoerende hoof van Kyalami, sê die ren is ’n verdere bewys van die baan se vermoë om internasionale motorsport van hoë gehalte aan te bied.
Die verandering beteken ook dat ander geleenthede op Creventic se Midde-Ooste-program aangepas word. Die Yas 12-uur-ren in Abu Dhabi sal na ’n nuwe datum in 2027 verskuif, terwyl die sesuur-ren van Abu Dhabi uitgestel word.
Vir Suid-Afrikaanse motorsportliefhebbers beteken die skuif dat van die wêreld se voorste GT- en uithourenmotors vroeg in 2027 op eie bodem te sien sal wees, en dié keer nie net vir nege uur nie, maar deur ’n volle nag en dag se wedrenaksie.
