Die liggame van agt vroue is reeds met die Ekurhuleni-moorde verbind, met die jongste slagoffer wat Dinsdagoggend, 15 September, in Springs ontdek is.
Hoewel dié slagoffer chronologies die agtste liggaam is wat gevind is, word sy as die sewende saak geregistreer ná ’n hertelling wat aan die lig gebring het dat ’n vroeëre moordsaak aanvanklik misgekyk is. Die agtste saak verwys nou na ’n liggaam wat reeds op 7 September in Olifantsfontein ontdek is, maar eers tydens die jongste hertelling by die ondersoek gevoeg is.
Hoëvlakafvaardiging vergader
Die besonderhede is Dinsdagaand tydens ’n mediakonferensie bevestig deur die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, ná ’n hoëvlakvergadering wat bygewoon is deur die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, die minister van vroue, jeug en persone met gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, die adjunkminister van polisie, dr. Polly Boshielo, en die Gautengse premier, Panyaza Lesufi.
Die vergadering het gefokus op die vordering van die ondersoeke, die ontplooiing van multidissiplinêre kundigheid en die maatreëls wat ingestel word om te verseker dat die verantwoordelikes geïdentifiseer en voor die gereg gebring word.
Die afvaardiging het senior SAPD-bestuurders en ondersoekbeamptes by die SAPD se Gautengse provinsiale hoofkantoor in Parktown ontmoet.

Saak tydens aanvanklike telling misgekyk
Dimpane het ’n oorsig van die sake gegee en gesê die eerste moord is op 15 Julie in Kempton Park geregistreer.
Nog twee liggame is in Augustus in Kempton Park ontdek. Die vierde slagoffer is op 7 September in Olifantsfontein gevind, gevolg deur die vyfde slagoffer op 10 September in Kempton Park en die sesde op 12 September, ook in Kempton Park.
Die sewende liggaam is op 14 September in Olifantsfontein ontdek, terwyl die jongste slagoffer op 15 September in Springs gevind is.
Die saak van 7 September in Olifantsfontein is egter eers tydens Maandag se hertelling geïdentifiseer en by die ondersoek gevoeg.
“Ons het moontlik hierdie spesifieke saak misgekyk toe ons die getalle opgestel het,” het Dimpane gesê.
