Die eenmalige toets tussen Argentinië, Los Pumas en Suid-Afrika se Springbokke het Vrydagaand om 21:00 in Buenos Aires by die Estadio José Amalfitani afgeskop, met groot afwagting oor of die Springbokke se sukses in vorige wedstryde vanaand op die telbord sou weerspieël.
In die laaste vyf ontmoetings tussen die twee spanne het die Springbokke vier gewen en Argentinië een. Die Springbokke het Argentinië in 2025 met 29-27 geklop en later dieselfde jaar met 67-30. Argentinië se laaste oorwinning oor die Bokke was in 2024.
Die wedstryd het teen ’n hoë tempo begin. Reeds in die tweede minuut het Argentinië se losskakel, Santiago Carreras, drie punte met ’n strafskop aangeteken.
Sacha Feinberg-Mngomezulu het intussen sy terugkeer gemaak nadat hy op 30 Mei sy enkel in die Stormers se URC-kwartfinale teen Cardiff beseer het. Hy het later ’n operasie ondergaan. Hy het kort daarna ’n strafskop vir die Springbokke oorgeskop.
Kort op sy hakke het Benjamin Grondona ’n drie gedruk, waarna Carreras die doelskop oorgeskop het.
Ná nege minute het Argentinië reeds met 10-3 voorgeloop, waarna die telbord vir ’n geruime tyd stilgestaan het.
Springbok-kaptein Siya Kolisi is ná 24 minute van die veld gehaal en deur Marco van Staden vervang. Kolisi het onlangs ná sowat ses weke se afwesigheid weens ’n besering teruggekeer.
Edwill van der Merwe het uiteindelik die telbord weer laat lewe kry toe hy ’n drie gedruk het. Sacha Feinberg-Mngomezulu het die doelskop suksesvol oorgeskop, waarna die eerste helfte op 10-10 geëindig het.
