‘n Lid van die Drakenstein plaaswag, Anthea Carlse, hou die pasgebore baba vas. Foto: DFW Fire & Rescue NPC/ Facebook


Twee Drakenstein-plaaswaglede (DFW) wat ook opgelei is as lede van die Wes-Kaapse noodhulpdiensstelsel (Efar) het gisteraand (18 September) met groot sukses gehelp met die geboorte van ‘n gesonde babaseuntjie op die Sonstraalpad in die Paarl.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, stiger van die DFW het hy en sy kollega, Anthea Carlse wat beide Efar- en DFW-lede is, ‘n noodoproep om ongeveer 18:20 ontvang van ‘n ma (31) wat in kraam is.

Hulle het toe gejaag na die plaas waar die baba toe reeds gebore was, en waar hul die ma gehelp het met die afskeiding van die plasenta asook om die naelstring te knip. Die metro-ambulansdienste was ook in kennis gestel wat kort hierna opgedaag het en die ma en baba na die Paarl-hospitaal geneem het vir toetse en observasie.

Van Leeuwen Boomkamp het bygevoeg dat hulle die baba in ‘n “moon blanket” warm gehou het terwyl daar op die ambulans gewag was.

Volgens hom is hierdie die Efar-lede in die Paarl se vierde geboorte en twee een hierdie jaar. “’n Geboorte is altyd ’n emosioneel positiewe ervaring vir alle nooddienste aangesien dit die erkenning van die goddelike skepping in sy suiwerste vorm toon,” het hy gesê.

Nooddienste versorg die ma en baba. Foto: DFW Fire & Rescue NPC/ Facebook

Oor Efar, verduidelik Van Leeuwen Boomkamp dat dié gratis dienste wat ook vrywilliglik aangebied word, ’n konsep is wat die deur die Wes-Kaapse regering sowat 10 jaar terug uitgerol is.

Efar-lede werk nou saam met die metro-ambulansdienste om mediese sorg vinniger en aan meer mense beskikbaar te stel. In gevalle waar ambulanse nie gou genoeg by pasiënte kan aanklop nie, sal Efar eers opdaag om die pasiënt te stabiliseer waarna die ambulansdienste deur hulle uitgeroep word indien dit ‘n ernstige mediese noodgeval, in die geval ‘n geboorte, is.

In minder ernstige mediese gevalle sal Efar-lede die pasiënte versorg en nie die ambulans uitroep nie sodat hierdie hulpbronne elders gebruik kan word.

Alle Efar-lede is geregistreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) en beskik oor ‘n gevorderde noodhulp kwalifikasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article