OUDTSHOORN – Vir drie dekades lank bied die Klein Karoo Kunstefees op Oudtshoorn ‘n vol program vir feesgangers aan wat hul dors na goeie kuns sal les.
Vanjaar maak hulle weer so met die dertigste KKNK wat van 28 Maart tot 4 April plaasvind.
Tydens vanjaar se fees sal daar, volgens Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, weer gekyk word na die fees se beginjare en hoe dit oor die jare ontwikkel het.
“Dié viering kyk egter ook voluit vorentoe. Die gewilde aspekte van die fees is volgepak, met ’n paar nuwighede en opwindende aanpassings.”
Feesgangers kan verwag om ou bekendes te sien, maar ook regskuif vir verskeie debuutproduksies van nuutgeskrewe tekste en vertalings. Daar is ook ‘n keur van bekroonde en gewilde werk op die planke.

“Die Feesmark is ekstra woelig met twee musiekverhoë waar van Suid-Afrika se voorste en gewildste sangers en musikante te sien is. ’n Spesiale Voluit-openingskonsert (28 Maart) met verskeie verrassings en die bekende Karoo Pops (29 Maart) en Kaktus (2 April) is terug. Verder bied die Feesmark ook kinderteater in die Klein KKNK-teater, kort teaterproduksies met Blitsteater. Alles aangebied teen ’n sakpasprys. Bykomend is daar ook gratis vermaak in Baron van Reedestraat by die RSG en ATKV-Kuierkol, verskeie gespreksreekse en visuele kuns,”het Theart gesê.
Teaterhoogtepunte sluit Nicola Hanekom se drama Die gebed van ’n halfmens in, onder regie van Hanekom met bekendes soos Tobie Cronjé en Annelisa Weiland. Die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye se herbesinning oor die Trojaanse oorlog in Atropa: Die wraak van vrede onder regie van Marthinus Basson met Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Rolanda Marais, Tinarie van Wyk Loots, Carla Smith en Geon Nel debuteer ook by die KKNK.
Saartjie Botha se splinternuwe, ge-gebergtes, is op die planke met Nic de Jager, Daneel van der Walt, Miché van Wyk en Ntombi Makhutshi. Botha hanteer ook die verwerking van Die ander dogter, ’n nuwe eenpersoonvertoning met Sandra Prinsloo.
Carla Smith debuteer met haar eerste toneelstuk CRYBABY, met onder andere Frank Opperman en Nicole Holm.
Die bekroonde Karoo Kaarte-span agter Die Swartmerrie is weer terug met ’n splinternuwe drama Spoel.
Breyten Breytenbach se eerste en laaste toneelstukke is vir die eerste keer by een fees saam op die planke. Met ’n spesiale Breytenbach-kaartjiepakket kan feesgangers Boklied en Verwelkingslied met Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar teen 30% laer koste geniet.
MOYA van die Zip Zap Circus gaan op ‘n veelkleurige reis deur die mikrokosmos van Suid-Afrika tydens hul eerste verskyning in die Klein Karoo.
Gewilde dramas van ander feeste sluit onder andere in Danie Marais se Ek is nie Danie en Athol Fugard se Boesman en Lena.
Die stand-up program bied ’n keur van komedies deur onder andere Lizz Meiring met Die ‘Real Housewife’, Wynand van Vollenstee en Thiart Li met Geagte kampeerders, Chris Vorster se Gebou soos Steffi Graf en Marion Holm se Gryp elke grasHOLM.
Grapjasse Alfred Adriaan, Alan Committie, Mel die Storieverteller, Hannes Brümmer, Kurt Schoonraad Aletta Francina de Kock, Uncool Tea en Christie van Niekerk is ook deel van die stand-up aanbod.
Daar is ook vier dansproduksies te siene.

Debuutwerke op die musiekprogram is volop. Nataniël deel die verhoog met Charl du Plessis in SOOIBRAND, Frieda van den Heever, Coenie de Villiers, Mauritz Lotz en Deon Meyer is te sien in Stille vuur, Francois van Coke in Hoe ek dit onthou, Rocco de Villiers se KLAWER, Jak de Priester se 25 jaar van songs, Amanda Strydom en Je-ani Swiegelaar in Tillie/Mathilda, Elzabé Zietsman in Wat om te doen as die wêreld brand, Albert Frost en James Grace deel die verhoog in Twee wêrelde, twee kitare, een verhoog, Anna Davel en Ilse Klink is In Harmonie en Davel is ook te sien saam met The Melisizwe Plaatjie Collective, Voor die gordyn oopgaan met onder andere Brandon October en Woordenaar met Churchil Naudé, Jackie Lätti, Riku Lätti en Jannie van Tonder.
Vir die jongspan is daar tien teaterproduksies, onder andere Jakob en Liewe Heksie word ‘gescam’.
Daar sal ook stalletjies, die KKNK-winkel, kroeë, ’n pretpark, ’n ekspo-area deur Klein Karoo Agri en vele ander doendinge wees.
Wat visuele kuns aan betref het Liza Grobler, die kurator,’n program saamgestel onder die tema Grenslose gesprekke, wat regdeur die dorp gesien kan word. nomThunzi Mashalaba is die feeskunstenaar vir 2026 en ’n uitstalling getiteld PLEK is te sien met werke van al die feeskunstenaars oor die afgelope drie dekades.
Die volledige program is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.







You must be logged in to post a comment.