DE DOORNS – Die vreugdevure het Dinsdagaand (27 Oktober) in De Doorns hoog gebrand terwyl trane van blydskap vryelik gevloei het toe twee plaaslike potspelspelers, Jermino Fink (17) en Jayden Willemse (13), as Wêreldkampioene in die o.18-afdeling tydens die 2026- WPA Blackball-wêreldkampioenskap in Londen, Engeland, gekroon is.
Die kampioenskappe het van 20 tot 28 Oktober in die Thistle-hotel in Heathrow in die Verenigde Koninkryk plaasgevind.
Die seuns se trotse afrigter en stigter van die De Doorns Pool Academy, Hendrik Horsemend, sê hy en sy ander jong potspeler-studente, tesame met die ganse De Doorns, het Dinsdagaand regstreeks na die naelbyt-eindstryd gekyk.
Horsemend sê toe die seuns daardie wenhou skiet, het van die ander jong potspelers in trane uitgebars van blykskap.
“Ons het gecelebrate. Die laaities het in die strate afgehardloop en geskree. Ons hulle ge-video call kort nadat hulle as die wêreldkampioene gekroon is.
“Hulle [die nuwe wêreldkampioene] het geskree van blydskap.”
Horsemend sê Dinsdagaand kon hy nie ‘n oog troemaak nie. Volgens hom het die seuns se oorwinning ‘n groot emosionele impak op De Doorns se mense gehad.
“Dis die eerste keer wat ek so iets beleef. Dis ‘n hoogtepunt en baie spesiaal vir my omdat die seuns – toe hulle sewe jaar gelede by De Doorns Pool Academy aangesluit het – nog geen blootstelling aan die sport gehad het nie.”
Horsemend het in ‘n vorige onderhoud aan Standard Breederivier Gazette gesê die seuns kon skaars ‘n potspelstok vashou toe hulle destyds by sy klub aangesluit het.
Volgens hom gaan die nuwe wêreldkampioene Sondag (1 November) op ‘n spesiale ete trakteer word.
Hulle land vandag (30 Oktober) terug in Suid-Afrika.

Raadslid Vernon Bedworth, burgemeesteskomiteelid vir sport en ontspanning by die Breedevallei-munisipaliteit, het die seuns met hul prestasie gelukgewens.
“Die talentvolle duo, verbonde aan die De Doorns Pool Academy (DDPA), het deur die loop van die kompetisie uitsonderlike vaardigheid, presisie, vasberadenheid en spanwerk getoon, wat op ‘n merkwaardige oorwinning teen Malta in die o.18-dubbelspel-eindronde uitgeloop het.
“Hul prestasie is ’n bron van groot trots vir De Doorns, die Breëdevallei, die Wes-Kaap en die hele nasie! Jayden en Jermino se oorwinning is ’n kragtige herinnering aan die sport-potensiaal in ons gemeenskappe en die belangrikheid daarvan om voort te gaan om plaaslike talent te koester,” sê Horsemend.
“Hul prestasie bring nie net internasionale erkenning aan De Doorns nie, maar inspireer ook ander jongmense om hul drome met selfvertroue en vasberadenheid na te streef.”
LEES OOK: SA Potspelkampioenskap – Hoërskool Sentraal skitter





You must be logged in to post a comment.