Bybelse blommerangskikkings in Worcesterse kerk het besoekers in vervoering

Cielie Welgemoed van Worcester verkyk haar aan een van Johan Conradie se skeppings voor in die kerk. Foto: Enrico Claassen

Bybelse blommerangskikkings in Worcesterse kerk het besoekers in vervoering


“Die ruikers bring my nader aan die Here. Dit herinner jou net weer hoe wonderlik die Here is.”

Dit is van die positiewe kommentaar van blommeliefhebbers wat Vrydag (25 September) die opening van die Worcester United Church in Kerkstraat se jaarlikse Blommefees bygewoon het.

Die fees wat die afgelope 40 jaar gehou word duur tot Sondag (27 September). Toegang is gratis.

Dit fees vind soos oudergewoonte in die kerkgebou van die Worcester United Church plaas.

Vanjaar se tema is “Reflections”.

Connie Jacobs (links) van Nelspruit en Leigh-Ann Zeeman bespreek een van die ruikers. Foto: Enrico Claassen
Connie Jacobs (links) van Nelspruit en Leigh-Ann Zeeman bespreek een van die ruikers. Foto: Enrico Claassen

 Johan Conradie, kreatiewe direkteur vir die afgelope vier jaar van die Blommefees, en onder wie se leiding die rangskikkings gedoen word, sê elke skepping wat uitgestal word beeld ’n Bybelvers uit.

Hy verduidelik: “Ek begin gewoonlik so in Julie – ’n jaar voor die fees begin met my beplanning.

“Gewoonlik kry ek ’n visie van hoe die ruikers gaan lyk, blaai dan deur my Bybel en soek na verse wat onder die betrokke tema resorteer. Die versies moet met my praat.

“Ek sif gewoonlik deur sowat 30 Bybelverse totdat daar 12 oor is.”

Hy sê sowat ’n maand voor die uitstalling, deel hy die verse uit aan dié  wat belangstel om ruikers vir die fees te skep.

Johan sê  ’n maand voor die uitstalling begin bevestig hy net wie nog almal aan boord is.

Volgens hom is die skeppers van die ruikers soms so opgewonde dat hulle hul versies sommer ’n jaar voor die tyd by hom soek.

“Wanneer hulle so na hul versies kyk, sal hulle vir my sê wat hulle benodig, of ek sal hulle vra wat hulle nodig het, dan werk ons daarvolgens.”   

Johan sê vanjaar het hy nog sewe blomme-entoesiaste ryker geword wat met die skeppings wou help.

Hy sê twee vriendinne van hom van die Robertson Blommeklub het ook hand bygesit.

Johan se indrukke oor die uitstalling: “Die ruikers maak ’n diep impak op die mense. ’n Mens kon selfs ’n paar nat oë sien. Dit [die fees] was net net groter en beter as die vorige jaar.

“Ek het nie verwag daar gaan so baie mense wees nie. So nou moet ek groter gaan.”

Cielie Welgemoed van Worcester wat die fees nou al vir die afgelope ses jaar bywoon, het die volgende te sê gehad: “Die rangskikkings word elke jaar net mooier en meer. Dis hoekom ek elke jaar terugkom.

“Die versies pas ook so mooi by die ruikers. Dis net jammer die kerk is so klein, dan kon meer ruikers ingepas word. Die ruikers bring my nader aan die Here.”

Ester Meyer, ook van Worcester, sê dit is haar derde besoek aan die Blommefees: “Dit [die ruikers] is ongelooflik mooi. Dit [die ruikers] word net mooier en laat mens diep dink. Hierdie mense oortref hulself.

“Dit herinner jou net weer hoe wonderlik die Here is.”

Karyn Jones kan nie genoeg kry van die pragtige ruikers nie. Foto: Enrico Claassen

Blommeliefhebbers het nog tot vanaand (26 September) ses-uur kans om by die fees in te loer. Andersins, word die feesdeure more-oggend elfuur weer vir die publiek oopgegooi.

Op 27 September is dit die laaste dag van die drie dae lange Blommefees.

Vir die duur van die fees ontvang elke besoeker by die ingang van die kerkgebou ’n pamflet waarop die Bybelbelverse wat deur die ruikers uitgebeeld word, gedruk is.

LEES OOK: Warm weer kanselleer Clanwilliam-veldblomskou

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article