Terwyl aftrede ’n rustiger pas vir menige beteken, is dit nie so vir Hennie van Eck (70) nie.

Nee, vir die afgetrede prokureur van Gqeberha was aftrede die begin van ’n epiese reis van duisende kilometers wat hy in sarsies van drie weke op ʼn slag op sy bergfiets op verlate grondpaaie in die spore van ʼn ou ontdekkingsreisiger ry.
Net hy, ’n tent, kos en gasstofie en opblaasmatras met die eensame Noord-Kaap as geselskap. Dis nou as gulhartige boere hom nie langs die pad opraap en ʼn ordentlike matras en bord kos aanbied en hom ʼn nag in die koue veld spaar nie.
Van Eck het pas die eerste 1 300 km-been van sy reis voltooi, een wat hy soos beroemde 19de-eeuse natuurkundige en ontdekkingsreisiger, William John Burchell ook op 19 Junie begin het. Van Eck in 2026 en Burchell in 1811.
Soos Burchell het Van Eck by die Lutherse Kerk in Kaapstad weggespring en Schmidtsdrif teen 20 Julie bereik. Vandaar is hy eers huis toe, hy het immers pas oupa geword. Hy sal weer oor ʼn maand of so van daar verder ry in die rigting van Botswana.
“Die rit was so bevrydend, na 45 jaar in die tuig. Geen druk, opponente in die hof of sperdatums nie, net ek alleen waar ek kan asemhaal. Salig verby. Ek het weer eens besef watter wonderlike mense in ons land woon.
“My enigste fokus is die sonsopkoms, die wind, die voëls en die volgende kampplek. Geen selfone, mense, of verwagtinge nie. Sommige dae het in 100 km afstande niemand gesien nie,” sê hy.
Burchell het destyds met sy pasgemaakte ossewa, skaap en werkers stadig oor die landskap gereis. Die geselskap moes berge, riviere en ander hindernisse oorkom. Hy was ’n merkwaardige wetenskaplike wat oor vyf jaar meer as 7 000 kilometer afgelê het en sowat 63 000 eksemplare of monsters van plante en diere en insekte versamel het. Sy lewensgetroue tekeninge van plekke word tot vandag toe bestudeer, plekke wat Van Eck ook besoek het.
Burchell se monsters en dokumente is na die universiteit in Oxford gestuur. Hy twee volumes oor sy “Outward Journey” (heenreis) gepubliseer, en nooit sy beplande derde volume voltooi om die hele ekspedisie te dokumenteer nie,.

Die taak om die terugreis te voltooi, is onlangs deur dr. Roger Stewart en Marion Whitehead aangepak. Hulle het ‘n boek geskryf gebaseer op Burchell se bevindings en rekords van sy terugroete.
Van Eck moet ook hindernisse oorkom. “Dit het maande geneem om die roete, toerusting, klere, kos te beplan, niks wat te swaar is nie.”
Hy het met ʼn langhouhemp met ʼn kraag gery om sy nek teen die son te beskerm, en ʼn fietsrybroek met oprolbroekspype as dit koud is. Die beddegoed was ʼn hoë-tegnologie opblaasmatras om hom teen die koue grond beskerm, sakkies kitskoffie, blikkies sardyne, kitsnoedels en -sop wat hy op sy stofie warm maak. Biltong en droëwors gee proteïene en water kry hy uit plaasdamme en krippe langs die pad.
Om koers te hou, gebruik Van Eck moderne tegnologie wat op die eeue-oue data van Burchell en moderne kaarte gegrond is. Hy het ʼn GPS-toestel op sy fiets wat voorafgelaai is met koördinate wat deur dr. Stewart, ’n kenner van Burchell, oor 15 jaar nagevors is.
“Ek vergelyk moderne navigasie met Burchell se metodes, wat sy kompas en sterrelesings en die tel van wielomwentelings ingesluit het om sy geo-posisie te bepaal.
“My vrou, Mary, skud steeds haar kop oor my reise oor die jare heen. Sy, my kinders, en die res van die familie het my reis op ons WhatsApp-groep meegemaak. Dié groepsgetal het intussen gegroei soos mense wat ek ontmoet het ook ingesluit word.”
Gelukkig is Van Eck ʼn fikse man wat al 12 Ysterman-driekamp-byeenskomste en 14 Comrades-wedlope voltooi het.

Hy volg die sogenaamde Forgotten Highway, ’n ou roete wat as wildspaadjies begin en die eerste mense en ontdekkers gevolg het van fontein tot fontein van die Kaap die binneland in, lank voor die Groot Trek.
Die eerste reisgedeelte het hom deur die Tankwa Karoo, Sutherland, Fraserburg, Carnarvon en Prieska geneem. Hy het ook stilgehou by Griekwastad, Douglas, en Campbell. Die eerste been van die reis het hy in Schmidtsdrif voltooi.
Destyds het Burchell ook ʼn verlore “Hottentot”-stam by Kaabi’s Kraal gesoek, voor hy terug Graaff Reinet toe is om ander werkers te soek wat nie te bang was om die Batswana aan te durf nie. Vandaar is hy terug Griekwastad en toe noord na Kuruman en verder.
Vir Van Eck was vir hom besonders om by Campbell aan te doen, waar hy as een van vyf seuns van die bekende politikus Hendrik van Eck op die plaas Wildspan grootgeword het.
Sy broer, Johan, het hier vir ʼn wyle by hom aangesluit. “Ons het in die oorspronklike kliphuis oornag waar ek as baba geslaap het. Ons het die grafte van ons ouers, grootouers en ons een broer besoek. Nostalgiese oomblikke.
“My pa was gefassineer met Burchell; as kinders moes ons na die vervelige stories luister. Vandag waardeer ek sy pragtige beskrywings van mense en plekke.”

Die gesin was voortdurend op pad na plekke waar Burchell homself bevind het, onder meer ou sendingkerke in Campbell, Griekwastad (destyds onderskeidelik Groote Fontein en Klaarwater) en Kuruman.
“Ons was gereeld in grotte soos in die Campbell Kloof waar my pa ook later vir professor Phillip Tobias (1925–2012, wêreldbekende Suid-Afrikaanse paleo-antropoloog, menslike bioloog en anti-apartheidsaktivis) geneem het om opgrawings te doen. Vir verjaarsdae en Kersfees het ons boeke oor vroeë ontdekkingsreisigers soos Burchell en François Le Vaillant as geskenke gekry. Ons was ook na die plek waar Burchell die eerste keer die Burchell-sebra wetenskaplik beskryf het.”

Hennie se pa was ʼn lid van die Verenigde Party (die Sappe) wat in die parlement gedien het.
In die konserwatiewe boeregemeenskap van daardie tyd is hy as ’n uitgewekene beskou omdat hy nie die Natte, die Nasionale Party, of die NG Kerk ondersteun het nie.
“My pa het baanbrekerswerk gedoen en weidingsisteme uitgewerk en om die jagindustrie te reguleer. Hy het die konsep gevestig dat as ’n boer sy plaas volgens sekere standaarde omhein, die wild daarop sy eiendom is, ’n stelsel wat Suid-Afrika een van die min lande maak waar privaatbesit van wild moontlik is. Hy was ook een van die heel eerste gelisensieerde professionele jagters (PH) in die land.”
Sy pa is in 2016 op 84 jaar op die plaas oorlede en sy indrukwekkende boekversameling is aan die Africana Navorsingbiblioteek in Kimberley geskenk.
Hennie se oupa, ook Hendrik van Eck, was ’n gerespekteerde wetenskaplike. Hy het op 20-jarige ouderdom sy doktersgraad by die Universiteit Stellenbosch voltooi en is deur die Suid-Afrikaanse regering oorsee gestuur vir verdere studie. Hy was ’n sleutelfiguur in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse industrie en het nou saam met Hendrik van der Bijl gewerk. Hy was instrumenteel in die ontwikkeling van Sasol en die proses om olie uit steenkool te vervaardig.

Op sy reis het Hennie mense ontmoet wat sy pa en ma geken het en stories uitgeruil het. Op Griekwastad het hy gekuier by oom Robbie Meintjies, wat nog ou verkiesingsplakkate van Van Eck snr. uit 1964 bewaar het.
Die gasvryheid van die mense langs die pad is volgens Van Eck oorweldigend. Hy vertel van kere waar boere hom summier die sleutels van hulle huise gegee het. Selfs die polisie en sekuriteitsmense het hom op ‘gevaarliker’ gedeeltes van die pad begelei.
Sy blikkie pepersproei het hy nog nooit gebruik nie.
In die veld het hy op Hans Jors, ook 70, ʼn draadspanner afgekom wat vir hulle vetkoek in egte skaapvet in ʼn ysterpot gebraai het. Van Ech het hom verwonder aan Jors se kleurvolle stories.
Hy sal met die volgende been die reis van my rit hervat in Griekwastad en Burchell se roete deur die oostelike Karoo volg waar Burchell op soek was na ‘n “Hottentot”-nedersetting, en vandaar na Kuruman en verder noord.









You must be logged in to post a comment.