Die buitepasiënte-afdeling van die Paarl-hospitaal is die afgelope Dinsdag (4 Augustus) amptelik heropen nadat dit in Januarie vanjaar in ’n brand verwoes is.
Die R67 miljoen-herstelprojek is sowat ses maande ná die brand afgehandel. Dit word as ’n rekordtyd geprys omdat die herstelwerk die helfte van die oorspronklik beraamde tydperk van 12 maande geneem het.
Die heropening is onder andere bygewoon deur Stephen Korabie (Drakenstein-munisipaliteit se burgemeester), Mireille Wenger (Wes-Kaapse LUR van gesondheid en welstand), Francois van der Watt (Paarl-hospitaal se hoof), Francis Jacobs (voorsitter van die Paarl-hospitaalraad) en Margaret Sampson (Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se onderburgemeester).
Die brand op 27 Januarie vanjaar het groot strukturele skade aan die buitepasiënte-afdeling veroorsaak, terwyl rookskade tot op die derde verdieping van die hospitaal gestrek het. Ongeveer 750 mense, insluitend pasiënte, personeel en besoekers, moes tydens die noodsituasie ontruim word.
Gemeenskap staan saam deur chaos
Korabie het die voorval beskryf as ’n leerervaring wat ook traumaties en emosioneel was.
“Ons heropen vandag hierdie hospitaalvleuel, maar afgesien van die opening van die hospitaal, maak ons ook nuwe hoop vir die toekoms oop. Ons maak ook lesse oop wat geleer is.
“Ons maak ook ervaring oop waarna ons kan terugkyk en wat ons kan gebruik om vorentoe te gaan. Dit is ’n herinnering dat geboue kan brand, die mure kan ineenstort en toerusting kan vernietig
word, soos dit gebeur het. Maar die belangrikste is, wanneer ’n gemeenskap saamstaan, kan niks die gees van hierdie gebou vernietig nie.”

Hy deel verder hoe hy op die betrokke dag self gesien het hoe die gemeenskap bymekaar kom en saamgestaan het.
“Dit is waaroor ek vandag wil praat – die gemeenskap en die interafhanklikheid. Die verhoudings en saamwerk te midde van chaos. Dit was ’n les vir ons wat ek wil hê ons moet onthou wanneer chaos gebeur; hoe kom ’n gemeenskap saam om dit te laat werk.
“Daarom is my tema vandag om ’n gemeenskap deur krisis bymekaar te bring en daarom is dit belangrik vir my om daaroor te praat. Dit is presies wat op 27 Januarie gebeur het toe ’n gemeenskap saamgekom het toe daar krisis was, toe daar verwarring was, toe almal rondgehardloop het.”
Ondanks die omvang van die skade het die Paarl-hospitaal operasioneel gebly, met diensonderbrekings wat hoofsaaklik tot buitepasiëntdienste beperk was. Pasiënte het steeds toegang tot noodsaaklike gesondheidsorg gehad terwyl herstelwerk voortgesit is.
Volgens Wenger is die projek vinniger as verwag voltooi danksy noue same- werking tussen die hospitaalbestuur, die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand se interne infrastruktuur- en kliniese ingenieurspanne, kontrakteurs en gesondheidswerkers. Die laaste spesialisdienste het vroeg in Julie na die herstelde afdeling teruggekeer.
“Van die brand- en nooddienste wat daardie dag gereageer het, tot die gesondheidswerkers wat pasiënte veilig ont- ruim en steeds sorg gelewer het – almal het saamgestaan toe dit die meeste saak gemaak het.”
Dankbaar vir elke rolspeler
Wenger, asook Van der Watt, het in haar toespraak ook die hospitaal se personeel en bestuur, die departement se infrastruktuur- en kliniese ingenieurspanne, die Drakenstein-munisipaliteit, Paarl-
brandweer, die plaaslike media en gemeenskapsradiostasies bedank vir hul rol tydens die noodreaksie en om inwoners op hoogte te hou terwyl dienste tydelik elders in die hospitaal gelewer is.
“Ons is baie dankbaar vir die beslissende leierskap reg deur die stelsel tydens en ná die brand. Dit het ons gehelp om die hersteltyd aansienlik te verkort en die ernstige kliniese en reputasierisiko wat met so ’n groot voorval gepaardgaan, te verminder,” sê Van der Watt.
Wenger meen die heropening van die afdeling is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer verskillende rolspelers saamwerk.
“Die heropening van hierdie buitepasiëntafdeling behoort aan elke persoon wat tot die herstel bygedra het. Paarl het sy ware karakter in ‘n tyd van krisis gewys, en hierdie herstelde fasiliteit is ‘n blywende herinnering aan wat ons kan vermag wanneer ons saamwerk.”
ALSO READ: Paarl-hospitaal-brand: Vermeende brandstigter glo psigiatriese pasiënt






You must be logged in to post a comment.