WELLINGTON – Verlede week het inwoners van die Paarl en Wellington ‘n slegte reuk en rook waargeneem wat soos “mis in die lug gehang het”. Dié reuk, wat volgens talle inwoners onuithoudbaar was, asook die rook wat gevolg het, het van die rigting van die Wellington se afvalwaterbehandelings- aanleg gekom.
Paarl Post het na die Drakenstein-munisipaliteit (DM) uitgereik om te hoor wat die oorsaak was.
Volgens Louis Pienaar, DM se direkteur van ingenieursdienste, het die munisipaliteit se “brand- en reddingsdienste, in samewerking met die DM se ingenieursdienste en afvalwaterafdeling, suksesvol ‘n brand in ‘n ongebruikte rypwordingdam by die Wellington-afvalwaterbehandelingsaanleg geblus”.
Die brand het Maandag 5 Januarie uitgebreek en is teen Woensdag 7 Januarie heeltemal geblus.
“As deel van sy proaktiewe brandvoorkomingsstrategie het die munisipaliteit brandbane geïnstalleer voor die huidige brandseisoen, aangesien brande in aangrensende veldgebiede voorheen na ongebruikte rypwordingsdamme versprei het. Dié voorval het egter binne die rypwordingsdamgebied, binne die brandbaansone, ontstaan,” volgens Pienaar.
Die oorsaak van die brand word steeds ondersoek, hoewel brandstigting vermoed word.
As gevolg van die afgeleë ligging van die terrein doen die DM ‘n beroep op die publiek om die gebied te vermy en enige verdagte aktiwiteite aan die wetstoepas- singsafdeling by 021 807 8508 (beskikbaar 24 per dag) aan te meld.
LEES OOK: Wellingtonners keelvol oor stank, maar DM het ’n plan





