Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het met groot kommer gereageer op vandalisme by die gedenkmuur van die Wellington-begraafplaas. Veraste oorblyfsels is uit nisse verwyder en grafmonumente ernstig beskadig.
In die voorval is 62 van die 70 gevulde nisse in die muur ernstig beskadig en die inhoud verwyder. Die marmerplate wat deur families gekoop is om die nisse toe te sluit, is in stukke gebreek, en baie van die gedenkplaatjies is geskend.
Volgens die munisipaliteit is 36 van die nisse se veraste oorblyfsels op die toneel teruggevind en word dit nou veilig by ’n munisipale fasiliteit gehou. Die res kon egter nie opgespoor word nie.
“Ons veroordeel die skandelike daad van vandalisme by die Gedenkmuur ten sterkste,” het Stephen Korabie, uitvoerende burgemeester van die DM, gesê. “Hierdie optrede getuig van ’n skokkende minagting van ons gemeenskap en sy waardes. Om só iets te doen aan die laaste rusplek van iemand se geliefde vul my met afsku.”
Die munisipaliteit het begin met herstelmaatreëls en is besig om met die betrokke families in gesprek te tree om ondersteuning en gemoedsrus te bied.
’n Strafregtelike saak is by die Wellington-polisie geopen. Die munisipaliteit het bevestig dat hy ten volle sal saamwerk met die ondersoek om te verseker dat die skuldiges aanspreeklik gehou word.
“As deel van ons reaksie op hierdie onaanvaarbare voorval, sal ons ook ’n omvattende proses van openbare deelname begin om die toekoms van die Gedenkmuur te bespreek en ’n waardige, volhoubare oplossing te verseker,” het Korabie bygevoeg.
Die Gedenkmuur by die Wellington-begraafplaas bevat altesaam 360 nisse.



